Koue keer nie motorfees gees nie
Die On Wheels Motorskou was 'n groot sukses ten spyte van koue weer.
VAALPARK. – Die On Wheels Motorskou wat deur die Greenstone Pre-School & Aftercare Academy in Vaalpark gehou is, was ‘n groot sukses. Die koue weer op Saterdag, 30 Julie het niemand se geesdrif gedemp nie en daar was van vroeg af mense by die stalletjies en die motors.
Loumarie De Man, die kleuterskool se algemene bestuurder, het gesê hulle het baie nuwe vriende gemaak en positiewe terugvoer gekry. “Dit was regtig lekker om soveel mense bymekaar te sien. Die motors het baie aandag getrek. Die jongste entoesias wat sy “motor” gebring het om te skou was maar 3 jaar oud. Hy het natuurlik ‘n prys gekry.”

Al die uitstallers het ook reeds laat blyk dat hulle deel wil wees van die skool se volgende fondsinsamelingsprojek, die 5 km Colour Run wat by Vaalpark Primêr op 10 September gehou gaan word.
Piet van Zyl van Motorklub RSA het gesê dis altyd lekker om hul motors by so ‘n geleentheid uit te stal. “Ons doen dit gratis vir enige organisasie, maar vra altyd dat ons nie toegangsfooie betaal nie. Baie van ons lede is pensioenarisse en dit kos baie om die motors blinkskoon en aan die gang te hou.”

Motorklub RSA is in Februarie 1992 gestig en het tans 109 lede in die klub. Saterdag was daar 19 motors op skou, van ‘n 1955 Ford tot by ‘n 1978 Ford Cortina en selfs ‘n Mustang.
Die klub is gesetel in die Vaaldriehoek en Piet sê mense hoef nie ‘n veteraan motor te hê om deel van die klub te word nie. “Mense kan gerus op 13 Augustus kom kyk. Ons stal weer motors uit by Vereeniging Gimnasium,” het hy genooi.
