Rou riool loop direk in Vaalrivier terwyl president na inwoners luister
Terwyl president Cyril Ramaphosa Vrydag (12 Augustus 2022) in Sharpville na inwoners se klagtes en voorstelle geluister het, het liters en liters rou riool steeds in die Vaalrivier gevloei by 'n pompstasie skaars 9km weg van waar die presidensiële imbizo gehou is.
VEREENIGING.- Die rou riool stroom direk in die Vaalrivier vanaf Pompstasie Nr. 8 in Vereeniging wat nou al ‘n geruime tyd buite werking is.
Die pompstasie is langs Golfstraat in Peacehaven, sowat 150m van die Vaalrivier af.
Die rou riool vloei vanaf Pompstasie Nr. 8 onder die pad deur in ‘n kanaal wat deur die Riviera on Vaal-gholfbaan loop en loop dan in die Vaalrivier uit.
Volgens Dennis Ryder, die DA se streeksvoorsitter in die Vaal-streek, is dit Rand Water se verantwoordelikheid om toe te sien dat die pompstasie herstel en in stand gehou word.
Die pompstasie werk glo al vir maande nie en tydens Ryder se besoek aan die pompstasie Vrydag (12 Augustus 2022) was daar nie ‘n enkele werknemer van Rand Water in sig nie.
Daar was slegs twee sekuriteitswagte by die pompstasie.
“Ons is skaars 9km vanwaar president Cyril Ramaphosa sy presidensiële imbizo hou en hier kan ons werklike diensleweringsmislukkings van Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit op die grond sien,” het Ryder in ‘n kort video wat wyd op sosiale media gedeel is gesê.
“Dit is ‘n mislukking van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, en ‘n erger mislukking deur Rand Water, wat deur die departement van water en sanitasie opdrag gegee is om rioolbesoedeling in die Vaalrivier aan te spreek.”
“Kan ons so aangaan? Beslis nie! Dit is die drinkwater wat ons vir toekomstige generasies gaan benodig,” het Ryder ter afsluiting gesê.


