VEREENIGING. – Ds. Chris Olivier, leraar van die NG Kerk Drie Riviere-Oos, en Jaco Pienaar, ‘n jeugwerker van die gemeente, het Sondag (14 Augustus 2022) ‘n roomtert in die gesig gevat nadat hulle ‘n weddenskap met die gemeente verloor het.
Volgens ds. Chris Olivier was die ooreenkoms dat hy en Jaco albei ‘n rooi hart op hul agterkoppe sou laat inkleur en ‘n roomkoek in die gesig sou vat indien die gemeente daarin slaag om ‘n wins van meer as R160 000 by die NG Kerk Drie Riviere-Oos se Hartklop-basaar te maak.
Die basaar is onlangs gehou en die gemeente kon daarin slaag om ‘n bedrag van R237 000 in te samel, veel meer as die teiken van R160 000.
Volgens ds. Chris was dit eintlik Jaco se skuld, want hy het glo voorgestel dat hulle ‘n roomkoek in die gesig moet vat.
“Sommige mense wou betaal dat ons dit nie doen nie, maar ‘n belofte is ‘n belofte en dan sou die kinders ons daarvan beskuldig dat ons nie ons beloftes hou nie, so ons moes dit toe maar doen.”
Ds. Chris sê dié pret weerspieël maar net die gesindheid en lekker samewerking in die gemeente.
“Ons is ‘n gemeente wat daar wil wees vir die gemeenskap. Ons glo dat Christenskap ook daaroor gaan om te lag en te geniet en ‘n bietjie pret te hê,” sê hy.
Ds. Chris meen dit is ook goed dat mense na die Covid-tydperk weer bietjie kan lag en deel.
Hy het gemeentelede en die gemeenskap bedank wat gehelp het om die kerkbasaar ‘n suskes te maak.


