
‘n Video doen die rondte op Facebook, waar gesien kan word hoe mnr. Jaco Crause van Vanderbijlpark in die openbaar voor ‘n winkel deur ‘n man teen die kop en lyf geslaan en geskop en dan onderstebo gegooi word.
Terwyl verskeie mense toekyk, gryp die man dan vir Jaco aan die arm en trek hom weg van die toneel af tot buite die reikwydte van die winkel se sekuriteitskameras.
Vaalweekblad verneem van Jaco se familie dat die plaaslike buurtwag glo op die toneel opgedaag en Jaco weggeneem het.
Die familie het sedert die voorval, wat Vrydag 12 Augustus plaasgevind het, geen kontak met Jaco nie en is nie seker waar hy aangehou word nie – vermoedelik in Sebokeng se polisieselle. Die familie is baie bekommerd omdat hulle vermoed dat hy kopbeserings tydens die aanranding opgedoen het en mediese behandeling benodig. Hy het ook net ‘n dun hemp en kortbroek tydens die voorval aangehad en sy familie is bekommerd dat hy geen warm klere het in die skielike koue weer nie.
Vaalweekblad het die afgelope 2 dae verskeie versoeke aan die polisie se skakelafdelings in die Vaaldriehoek gerig om kommentaar te kry oor waarom Jaco in hegtenis geneem is en waar hy aangehou word, maar geen inligting is tot dusver ontvang nie.
Sover vasgestel kan word het Jaco ook nog in geen hof verskyn om te hoor waarvoor hy aangekla gaan word nie.
Enigiemand wat inligting het en bereid is om nie-amptelik aan Vaalweekblad of die familie te sê waar en waarom Jaco tans aangehou word en wat sy mediese toestand is, kan Vaalweekblad per whatsapp kontak by 083 246 0523, of die familie by 084 830 7101 of sy ma by 061 400 1829.
Opdatering om 19H40 op 16 Augustus: Polisiewoordvoerder sers. Gertrude Makhale het vanaand aan Vaalweekblad gesê mnr. Crause het gister vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn maar is nog nie gevra om te pleit nie. Die saak is tot 22 Augustus uitgestel. Dit blyk dat Jaco intussen in die Leeuhof-gevangenis aangehou word maar volgens sers. Makhale het sy tans geen verdere inligting oor sy fisiese/mediese toestand nie.
Hier onder is skermgrepe uit die video.





