Local newsNewsNews

Franz en Gunther gereed vir orrel-marathon

Dagboek 27 Augustus, want hierdie gaan iets wees om te aanskou.

VANDERBIJLPARK. – Orrels het hul eie bekoring. Daar kleef ou-wêreldse mistiek aan die instrument met die groot pype, baie klawers en pedale waaruit die mooiste klanke kan voortkom. Veral as ‘n meester agter die orrel sit.

Dis presies wat Saterdag, 27 Augustus by die NG Gemeente Driehoek gaan gebeur. Vanjaar word daar ‘n orrel-marathon saam met die basaar aangebied.

Die orrel, Gunther, het oorspronklik by die R6,5 miljoen gekos en daar word nou R50 000 benodig om Gunther te diens.

Franz Geldenhuys bekoor al jare met sy stem en klavierspel, tog sal die orrel altyd sy eerste liefde bly.

Hy het kleintyd hom al verkyk aan hoe die orreliste by die NG Gemeente Kollegepark die orrel speel. In graad 6 het hy begin lesse neem.

Hy onthou hoe hy na skool orrel by die kerk geoefen het en was algou een van die jongste orreliste om amptelik orrelbegeleiding in kerke te doen.

Hy ken omtrent elke kerkorrel in die omgewing, van die ou grote wat majestieus oor NG Moedergemeente uittroon tot by sy vriend, Gunther, by Driehoek-gemeente.

“Hy is mos ‘n Duitser,” verklaar Franz plegtig en voeg by sy klavier se naam is Freda, want sy is ook van Duitse afkoms.

Franz Geldenhuys. Foto: verskaf

“Die orrel-marathon is vir my ‘n groot uitdaging. Ek oefen al vir langer as ‘n maand aan 200 musiekstukke. Neem in ag dat van hulle verskeie gedeeltes het, dan werk ons hier by die 300 stukke,” lag hy en beduie na die musiekboeke wat genommer op ‘n kerkbank lê.

Op 27 Augustus gaan hy nie net tradisionele kerkmusiek speel nie. Uur na uur sal Franz en Gunther ander musiek laat opklink, van klassiek tot by Phantom of the Opera en Bohemian Rhapsody, met heelwat verrassings tussenin. Dit begin om 07:00 en sal tot 19:00 aanhou.

Die orrel-fondsinsamelingsprojek dien nie net om geld in te samel om die NG Driehoek orrel te onderhou nie.

Franz weet net hoe om die mooiste klanke uit die orrel te tower. Foto: verskaf

Franz sê talle gemeentes sukkel om onderhoudswerk te doen op die ou meesterstukke in kerke. Hy wil so ver as moontlik die orrels weer op standaard kry.

“Mense ken nie meer orrelmusiek nie. Hulle is nie bewus van die ongelooflike musiek wat op ‘n orrel gespeel kan word nie. Man, dis ‘n hele orkes in een,” beduie hy en vir die pret voer hy ‘n solo met net die voetpedale uit.

Hy wil deur die orrel-marathon jongmense inspireer om die instrument op te neem. Dan het hy ook drome om weer ‘n jeugkoor in die Vaal te begin, maar eers is hy aan’t oefen vir die groot dag.

“Daar sal iets vir almal wees. Onthou om NG Driehoek Gemeente se Facebookblad dop te hou vir die dag se program.

“Dit sal ook lewendig uitgesaai word, want mense van so ver as die VSA en Engeland het al laat weet hulle wil dit sien en hoor.”

Enige borge of donasies is welkom en kan inbetaal word by: NGK Driehoek. ABSA Tjekrekening: 530 581 071. Gebruik orrel met jou naam en van as verwysing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button