Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - In een week het ek twee keer die voorreg gehad om tyd saam met ekstra-spesiale mense te spandeer. Een van hulle, my serebraal gestremde neef, Gerrie.

RUBRIEK. – Ek was onlangs bevoorreg om tyd saam met Litha-Mari Erasmus se graad 5- klas te spandeer. Die spannetjie van 12 is in Eurekaskool vir kinders met erge fisiese en verstandelike gestremdheid.

Die dag was hul besig om bootjies op papier te plak en daarna was dit tyd vir musiek. Eers is daar op ‘n stadige ritme soos hul oumas en oupas geloop.

Tot groot vermaak van elkeen, het juffrou spesiaal vir hulle met die besem gedemonstreer hoe loop ‘n ouma met ‘n kierie.

Toe is daar vinniger soos soldaatjies geloop en later soos voëltjies gevlieg. Elkeen op sy eie tyd en manier.

Selfs Trinity in haar elektriese rolstoel klap met haar een werkende handjie ritmies saam. Die kinders geniet die musiek baie en dit was ook nie lank nie, toe word daar spesiaal vir my “row, row, row your boat” gesing.

Die klas is opgewonde oor die sportdag wat 26 Augustus gaan plaasvind. Elkeen gaan deelneem. Die wat kan hardloop gaan die 50 m naellope doen, ander gaan doelskop of netbaldoele gooi.

Trinity lag uitbundig toe juffrou Litha-Marie vertel sy gaan aan die rolstoelresies deelneem.

Sy kan self haar elektriese rolstoel vorentoe en agtertoe beweeg met die druk van ‘n knoppie. Die klassie se kinders het elkeen hul eie uitdagings en baie kom uit moeilike huislike omstandighede.

Wat jou opval is die absolute oorgawe waarmee hul deelneem en hul breë glimlagte en blink oë. Hier is hul gemaklik en veilig en word daar moeite gedoen om hulle te verstaan.

Die kinders leef vir die oomblik. Ons kan so baie by hul leer. ‘n Paar dae later kuier my niggie-hulle by ons. Haar jonger boetie Gerrie, is serebraal gestremd. Hy word 50 in September.

My neef, Gerrie. Foto: Elize Willemse

Die dokters het destyds gesê hy sal nie sy vyfde verjaardag sien nie. Vandag kyk sy suster na hom. Hy geniet sy Afrikaanse musiek en Afrikaanse kinderreekse.

Liewe Heksie is een van sy gunstelinge. Groet almal met die hand en wil altyd weet hoe dit gaan.
Sien vreeslik uit na sy 50ste verjaardag.

Daar gaan groot partytjie gehou word en op Gerrie se aandrang gaan almal soos karakters uit Blommeland en van sy ander gunstelingkarakters uit stories aantrek.

Ons doen dit met liefde, want dis vir Gerrie. Die een wat altyd ‘n storie het om te vertel, al kom dit krom en skeef uit.

Ons sit Sondag en kyk Heidi van die berge. Hy sing die liedjie uit volle bors saam. “Ek kan mooi sing,” sê hy en glimlag breed.

“Jy skryf lang sinne,” loer hy oor my skouer waar ek sit en berigte skryf. “Is my werk,” sê ek en hy knik.

“Ek was siek. Het julle vir my gebid?” vra hy skielik. “Ons het,” knik ek bevestigend, alhoewel hy lanklaas regtig siek was.

“Wat het jy gebid?” vra hy ernstig. “Dat jy moet gesond word,” antwoord ek en tik voort. Toe slaan hy my vir ‘n ses: “En wat het Liewe Jesus jou geantwoord?”

Ek het net gelag. So ken ek hom, en so kom ons al ons hele lewe saam.

Ou Gerrie, vir hom sal ek maar soos ‘n karakter uit ‘n storie aantrek. Iemand wat dokters so verkeerd bewys het, mag maar sy 50ste op sy manier vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button