Local newsNewsNews

Emfuleni besig om transformator aanmekaar te sit

Die 20 MVA transformator wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gekry het om ‘n beskadigde 10 MVA transformator by die Risiville-substasie te vervang het blykbaar ‘n groter kapasiteit as die vorige een.

VEREENIGING. – Volgens Silas Zimu, ‘n administrateur van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is die gebruikte transformator van die Unibijl-substasie in Vanderbijlpark af aangery.

Dit is nie ‘n nuwe transformator nie, maar ‘n gebruikte een.

Die transformator het Saterdagmiddag (20 Augustus 2022) by die Risiville-substasie aangekom, nadat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se transformator na 13:00 daar aangekom het.

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se transformator kon Saterdag (20 Augustus 2022) nie van die vragmotor af gelaai word nie aangesien werkers van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit reeds besig was om hul transformator af te laai en daar nie plek was vir ‘n tweede vragmotor om te staan nie.

Midvaal se transformator, ‘n betreklik nuwe transformator, is van die Graceview-substasie in Midvaal af laat kom. Dit is ook ‘n 20 MVA transformator.

Salome Janse van Rensburg, raadslid vir Risiville en Peter Teixeira, burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, by die transformator wat die beskadigde een vervang. Foto: Christiaan Cloete

Die transformator van Midvaal is reeds op sy plek maar moet blykbaar nog gekoppel word.

Tesame met ‘n 10 MVA transformator by die substasie behoort die twee “nuwe” transformators die substasie ‘n kapasiteit van 50 MVA te gee.

Inwoners van Drie Riviere en Risiville is sedert Donderdagoggend (18 Augustus 2022) sonder elektrisiteit nadat ‘n brand omstreeks 07:30 by die substasie ontstaan het.

‘n Transformator van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het uitgebrand en ‘n transformator van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is ook beskadig. Albei transformators moes vervang word.

Dit was Sondag (21 Augustus 2022) die vierdie dag sonder elektrisiteit vir inwoners van Drie Riviere en Risiville en gemoedere is besig om hoog te loop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button