Local newsNewsNews

Paartjie werk sewe dae per week om troue te betaal

Hulle sê die liefde oorwin alles. Vra maar vir Landi en Hendrik van Vanderbijl wat al maande saamwerk om hul eie troue te betaal.

VANDERBIJLPARK. – Hendrik Burger en Landi van der Westhuizen is verlief, verloof en sien uit na hul troudag op 3 September 2022.

Die paartjie het April 2021 verloof geraak en besluit hulle wil ‘n Boerejolyt troue hou vir hul naaste familie en vriende.

“My eerste gedagte was, hoe betaal ons vir die troue?” vertel Landi. “Ons ouers is pensioenarisse, ons sal self moet betaal. Ek wou nie bakhand gaan staan vir geld nie. Ek het nog altyd geglo ‘n mens moet werk vir jou geld.”

Hendrik het op daardie stadium in sy vrye tyd by huise gaan vensters insit en die re-putty van die rame gedoen.

Landi het hom gevra om haar te leer om dit ook te doen en so het Die Glasvrou tot stand gekom.

In die afgelope klompie maande het Hendrik saam met haar ingeval en het die twee van vroeg tot moeg elke dag gewerk om die nodige fondse bymekaar te maak.

“Op hierdie stadium is alles betaal behalwe die lokaal en spyseniering. Dit kry ons teen ‘n goeie prys by G & H Arches & Roses,” beduie Landi. Hendrik se klere is reeds gekoop en Landi se ma maak haar trourok.

Die Glasvrou vaar so goed dat die twee besluit het om met die besigheid na die troue aan te gaan. “Oorhoofse kostes is daar baie, die pryse van die glas en putty gaan gedurig op, maar ons geniet ons werk en ons kliënte is tevrede.”

Hulle het nog sowat R12 500 om in te samel om al die onkostes te dek, maar sê hulle behoort in volgende week genoeg werk te hê om meer as die helfte van die uitstaande bedrag te dek.

Vir die res het hul ook nou ‘n plan bedink. Met Erfenisdag, ook bekend as Nasionale Braaidag op 24 September, om die draai, bied hul nou vir hul kliënte die kans om ‘n vleisbraaipak ter waarde van R500 te wen.

“Indien mense voor 1 September bespreek en betaal vir werk wat vanaf 11 September gedoen gaan word, word hul name in die trekking vir die braaipak geplaas.”

“Ons het ook ander spesiale aanbiedinge. Mense kan ons gerus kontak op WhatsApp of bel ons by 064 973 3873 of 078 132 7261. Ons werk sewe dae per week.”

Die paartjie gaan na hul troue vir ‘n week in Parys rus voordat hul weer hul werk hervat op 11 September.

“Ons is so bevoorreg om mekaar te kan hê en die ondersteuning van die Vaal se mense is ongelooflik. Dankie vir almal se bydraes en ondersteuning. Ons sien baie uit na ons groot dag en om daarna Die Glasvrou tot nuwe hoogtes te vat.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button