Local newsNewsNews

Kragtoevoer binne vier dae herstel

Dit was vier dae van naels kou en erge ongerief maar gelukkig is die ligte nou weer aan!

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word geloof vir die spoed waarmee hulle verlede week die kragtoevoer aan Risiville en Drie Riviere herstel het nadat ’n transformator van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit Donderdagoggend (18 Augustus 2022) by die Risiville-substasie aan die brand geslaan en die buurte van Drie Riviere en Risiville in duisternis gedompel het.

In slegs ’n paar dae is daar geslaag om die beskadigde transformators te verwyder, nuwes te verkry, dit aan te ry en te laat installeer.

Danksy spanne wat deur die naweek gewerk het kon kragtoevoer in ongeveer vier dae se tyd herstel word.

Die ligte het Sondagaand in Risiville aangekom en kragtoevoer is kort voor middernag aan gedeeltes van Drie Riviere herstel.

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit voorsien nou ook tydelik krag aan gedeeltes van Drie Riviere (in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit) terwyl die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nog besig is om hul 20 MVA transformator te installeer.

Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, Peter Teixeira, het Sondagaand inwoners vir hul geduld en ondersteuning tydens hierdie moeilike tyd bedank.

“Ons wil graag ook die personeel bedank wat regdeur die naweek in die koue gewerk het,” het Teixeira gesê.

Die probleme het alles begin toe ’n 10 MVA transformator van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit Donderdagoggend (18 Augustus 2022) in die omgewing van 07:30 by die gedeelde Risiville-substasie aan die brand geslaan het.

Om dinge erger te maak is ’n transformator van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit wat langs die beskadigde transformator gestaan het ook beskadig.

Brandbestryders van Midvaal-brandweer was gou op die toneel en kon die brand onder beheer bring voor dit verdere skade kon aanrig.

Spanne van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het gou aan die werk gespring om die beskadigde transformators te verwyder.

Toe moes transformators verkry en aangery word.

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het ’n 20 MVA transformator van die Graceview-substasie af laat aanry.

Die transformator het Saterdagmiddag kort na 13:00 by die substasie aangekom waarna dit afgelaai is en werkers begin het om dit te installeer.

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het ’n gebruikte 20 MVA transformator vanaf die Unibijl-substasie laat aanry.

Hulle is tans besig om dit te installeer.

Wanneer die werk voltooi is sal die substasie danksy die twee “nuwe” 20 MVA transformators en die 10 MVA transformator by die substasie ’n verhoogde kapasiteit van 50 MVA hê.

Daar is ook talle vrae oor wat tot die brand gelei het, sowel as die stand van Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se toerusting.

Inwoners wil weet of die ’n gebrek aan instandhouding een van die hoofoorsake van die situasie was, en indien wel of daar teen die nalatige party/partye opgetree gaan word.

Daar is ook vrae of inwoners die verliese wat hulle tydens die vier dag lange kragonderbreking gely het van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit kan terugeis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button