Local newsNewsNews

Stef Bos bekoor met Bitterlief – ‘n solovertoning

Stef Bos het onlangs die gehoor aan sy voete gehad met sy solovertoning, Bitterlief, wat hy by die ERT in Sasolburg opgevoer het.

SASOLBURG. – Op Maandag, 15 Augustus is die immergewilde en internasionaal bekende sanger en musikant, Stef Bos by die Etienne Rousseaug Teater verwelkom.

Stef se solovertoning, Bitterlief, neem die gehoor op ‘n reis terug in tyd. Hy gesels oop en eerlik oor waar hy vandaan kom, wat hy dink en hoe hy die lewe ervaar.

Hy het vertel van sy eerste indrukke van Suid-Afrika in die begin van die 90’s en hoe hy onherroeplik verlief geraak het op die land, maar veral Afrikaans.

Deur sy musiek en sy vertellinge kyk mens na jou eie taal uit ‘n ander lig. Hoor jy weer die mooi van ons woorde, die raakvat beskrywings en die klanke wat saamval om hierdie taal van ons te vorm. Dis hoendervleismooi om dit te hoor.

Deur die loop van die vertoning het hy die gehoor laat lag – hoe dan anders as hy vertel van hoe hy en sy gesin verlede jaar met ‘n branderplank op die dak deur die Vrystaat vakansie gehou het.

Hul planne om by die see te draai het ontspoor en hulle het toe op ‘n binnelandse vakansie gegaan, maar die branderplank was reeds op die dak!

Hy het menige een ook laat trane wegvee. Sy musiek ontroer en spreek jou aan maak nie saak of hy in Afrikaans of Nederlands sing nie.

Stef Bos saam met die leerlinge van die Katleho Mpumelelo Secondary School Foto: Gerda Bruinette

Na die vertoning het hy ook moeite gedoen om met van sy bewonderaars te gesels.

Twee het hy vroeër die dag by ‘n eetplek in Sasolburg raakgeloop en toe hulle vir hom sê een van sy liedjies het op hul troue gespeel, het hy die paartjie uitgenooi om die vertoning by te woon en spesiaal weer vir hul die lied gesing.

Hy het ook ‘n groep leerlinge van die Katleho Mpumelelo Secondary School in Zamdela se aand gemaak toe hy saam met hul foto’s geneem het.

Die leerlinge is deur hul onderwyser, Johan Dreyer, na die vertoning gebring as beloning vir hul goeie gedrag die vorige kwartaal.

Die leerlinge het die vertoning baie geniet en het geskaterlag vir Stef se stories.

Hou gerus die teater se Facebookblad, @ERTSasolburg, dop vir die res van Augustus en September se program.

Dit sluit onder andere ‘n vertoning deur Carli Olivier se Spanish Dance Productions in op 27 Augustus en ‘n eenmalige optrede van die Universiteitskoor Stellenbosch op 8 September.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button