Vaal se eie ‘Spiderman’
Justin Rabie het 'n groot voorliefde vir tarantulas. Nie net hou hy die agtpotiges aan nie, hy maak ook sketse van sy spinnekoppe.
VANDERBIJLPARK. – Hy staan bekend as ‘Spiderman’ omdat hy gereeld sy grootste tarantula, Scarlett, saam met hom winkels toe neem.
Justin Rabie (27) het 36 tarantulas van verskillende groottes en sê in sy hart en in sy kamer is daar altyd plek vir nog ‘n paar.

Die tarantulas het eintlik by sy jonger broer en suster begin wat elkeen ‘n tarantula gekoop het toe Justin in graad 9 was.
Hy het hulle nie self aangehou nie, maar tot sy suster sowat 18 maande gelede swanger raak, het sy haar vier spinnekoppe vir hom gegee. Net daar het die gogga hom gebyt, figuurlik natuurlik.
“Ek het baie navorsing oor tarantulas begin doen. Ek lees alles op die internet wat daar oor hulle te lees is en kyk al die video’s. So het ek myself geleer om na hulle te kyk,” vertel hy.
Justin straal ‘n rustige kalmte uit wat sekerlik deur die tarantulas aangevoel kan word. Hy sê op die Facebookgroepe waarvan hy deel is, is die ander altyd verstom as hulle hoor hy kan met Scarlett op sy skouer rondloop, aangesien die spinnekoppe nie daarvan hou om hanteer te word nie.
Volgens Justin is nie alle tarantulas giftig nie. Daar is ‘old world’ en ‘new world’ tarantulas. Dis die ‘ou world’, wat inheems aan Suid-Afrika en Indië is, wat giftig is, terwyl die ‘new world’ variante uit Brasilië meestal vriendeliker is.
Dit is onwettig om die meeste inheemse Suid-Afrikaanse tarantulas aan te hou, aangesien baie van hulle bedreigde spesies is.
Om die klomp spinnekoppe aan die lewe te hou, teel hy met spesiale kokkerotte. “Ek kan nie sommer enige insek vir hulle vang nie. ‘n Mens weet nooit wanneer het iemand gif gespuit nie,” verduidelik hy.
Sy spinnekoppe is altyd in hul spesiale glaskaste. Elkeen het genoegsame grond, kos en selfs speelgoed.
Scarlett se kas is natuurlik die grootste en binne het hy al vir haar die mooiste houthuisie gebou.

Kyle, Justin se susterskind, is nou een jaar oud en dit lyk asof hy in sy oom se spore wil volg. Kom hy in Justin se kamer, is sy handjie dadelik teen een van die spinnekoppe se glaskaste en bewonder hy die agtpotiges daar binne.
Wanneer Justin nie besig is om navorsing te doen nie, skets hy graag. Die lewensgetroue sketse verkoop hy dan op Facebook as sy hoofinkomste. “Eenkeer het ‘n man op een van die groepe met my baklei omdat hy gereken het dit was ‘n foto van ‘n tarantula wat ek opgesit het.
Volgens hom het die spinnekop hopeloos te min grond gehad in sy hok. Dit het my ‘n ruk gevat om hom te oortuig dit was net ‘n skets en nie ‘n foto nie,” lag hy.
Mense wat nie ordentlik na hul tarantulas kyk nie krap hom om. Hy het al heelwat verwaarloosde tarantulas gered en weet al selfs hoe en waarmee om hul gesond te dokter.
Een ding is seker, die tarantulas kom heel eerste in dié ‘Spiderman’ se lewe.
