Ek sê maar net…
Rubriek. - Augustus se winde maak mens soms mistroostig. Wanneer die heimwee aan jou hart vat, help 'n beker warm tee ... soms
RUBRIEK. – Ek maak tee. Soet en sterk. Dis hoe my tannie Kittie my geleer het. Ons het elke middag half vier tee gedrink.
Was in my skooldae. Met die jare saam het ek verleer om tee te drink. Koffie het die oorhand gekry. Maar vandag is ek lus vir tee.

Mis haar steeds. Die tannie van my. November sal dit ook nou al 17 jaar wees wat sy nie meer hier is nie. Hoekom ek haar vandag van alle dae meer mis, is ek nie seker nie.
Dalk is dit die koue wat vanoggend so vat-vat aan mens se lyf. Die helderblou lug buite. Die wind wat stof oral inwaai. Bietjie mistroostig.
Dan is daar troos in ‘n beker warm tee. Wanneer dinge te veel vir haar geword het, het sy tee gemaak. Sy het wysheid gehad. Kennis van baie dinge.
Ek verlang na die dae wat ek haar sommer net in die middel van die nag kon bel. Sy was wakker na middernag. Sy het geweet dis net ek wat haar dan sou skakel. Ons het baie gesels.
Ek en Kittie. Kittie en ek. Vir haar was ek Ounooitjie. Sy het my altyd aan vreemdes voorgestel as haar jongste dogter.
Selfs toe ek begin werk het en na vreemde dorpe moes reis was sy die eerste wat ek gebel het.
Net om te sê hoe dit daar lyk, haar te vertel van die uitsig en om te hoor hoe dit gaan. Nou drink ek alleen tee op ‘n koue oggend in Augustus.
As die lug die dag so helderblou in Vanderbijl is, dan weet jy dis koud. Vroegoggend sou die mis slierte trek oor die Vaalrivier.
Ek onthou die dae wat ek saam met Pa gaan visvang het. Onder by die rivier, lank voordat die rivier toegebou is. Ek onthou die koue oggende. Die stokke.
Die lyne in die water. Die visse wat speel. Die voëls wat roep. Pa rustig agter sy stokke. Vaalrivier. Vaaldam. Daantjie se Gat.
In standerd 4 na my oog toegeswel het van ‘n hooikoorsaanval langs die dam, het ek opgehou visvang.
Daarna het ek maar net so hier en daar saam met Pa gegaan. Vandag is ek spyt. Pa is nie meer hier nie. Sy stokke gaar stof op in die motorhuis.
Nog ‘n sluk warm tee. Soek vertroosting in die soet. Onthou Pa se lag en Pa se stem. Ek het juis Maandagaand by Stef Bos se vertoning vergeefs die trane probeer keer toe hy van sy pa sing.
In sy lied Papa sing hy: “en misschien ben ik geworden wat jij helemaal niet wou,
maar papa ik lijk steeds meer op jou.
Oh papa, ik hou steeds meer van jou.
Papa ik lijk steeds meer op jou…”
Dis nou een ding wat nie twee is nie. Ek is my pa uitgeknip. Al die Bruinettes trek so na mekaar. Maar nou is Pa nie meer hier nie. En Kittie ook nie.
Die tee is klaar. Die beker is leeg. Net die soet smaak wat vir ‘n wyle nog talm. Buite kwetter en koer ‘n verskeidenheid voëls en kilometers verder blink die Vaalrivier in die son.
Ons Vaalrivier is darem nog altyd daar, al kan ek net so hier en daar spatsels silwer sien as ek oor die brug Vrystaat toe ry.
