Zeus het ‘n tweede kans gekry!
VAAL – Zeus, die drie jaar oue sagmoedige reus (Great Dane) het met sy agterwêreld binne-in die botter geval.
Vaalweekblad het onlangs oor Zeus, ’n pragtige Harlequin Deense hond (Great Dane) berig wat in die sorg van die Purrpaws For Life Rescue Centre in Viljoensdrif was.
Net soos Zeus homself by die sentrum vinnig in almal se harte ingewurm het, net so was die reaksie van ver buite die Vaal se grense nadat die berig op Vaalweekblad se webtuiste en sosiale media verskyn het.
Die bestuur van Purrpaws For Life Rescue Centre was gretig om Zeus so gou moontlik by ’n liefdevolle huis te plaas … en toe gebeur dit.

Honderde mense het belang gestel om Zeus ‘n tweede kans te bied, maar sy aanneming was onderhewig aan streng reëls en keuring, asook aannemingsfooie.
Na sorgvuldige nadenke en ondersoek, woon Zeus nou in Sandton saam met sy nuwe eienaar Siobhan Nayler.
Hy het sy eie “dog walker” wat hom daagliks op uitstappies neem, en verder kan hy net lekker ontspan in die gemak van sy nuwe, stylvolle huis.
“Zeus is so happy, en dit maak ons ook bly,” sê Lindie Naude van Purrpaws For Life Rescue Centre.
Die sentrum het nog baie ander pragtige honde en katte vir wie daar ook op ‘n gelukkige einde gehoop word.
Belangstellendes kan die sentrum kontak by 083 650 9558 of 063 307 2226.

