Selfdood: ‘Eugene het almal probeer help maar sy eie seer weggesteek’
Die video wat hy agtergelaat het, gee aan sy gesin ‘n kykie in die onhanteerbare psigiese pyn waarmee hy innerlik geworstel het.
MEYERTON . – “Sommige mense dink iemand wat sy eie lewe neem is ‘n lafaard wat weghardloop omdat hy iets verkeerd gedoen het. Hulle besef nie depressie is ‘n dodelike siekte nie. Eugene was nie ‘n lafaard nie. Hy was ‘n goeie, omgeemens wat altyd alles vir almal wou doen terwyl hy sy eie seer probeer wegsteek het.”
So sê wyle Eugene Potgieter (36) se ma, mev. Hannelie du Preez, wat saam met haar gesin worstel om die hartverskeurende gebeure van 22 Julie toe hy gesterf het, te probeer verwerk.
Eugene is op 8 Desember 1985 in Virginia gebore maar het as kind saam met sy ouers na die Vaaldriehoek verhuis, waar hy aan Laerskool Lumiêr in Vaalpark skoolgegaan het. Met sy groot liefde vir diere het hy sy skooljare aan die landbouskool Hoërskool Veld en Vlei voltooi en daarna die slaghuisbedryf betree. Hy was tot met sy dood in ‘n senior pos aan Henley Country Butchery verbonde.
“Hy was ‘n mense-mens, altyd reg met ‘n grappie of twee. Hy was lief vir sy mense, sy familie en vriende en was altyd gereed om te help. Hy sou sy laaste vir iemand anders gee maar het homself min gegun. Sy werk was sy passie en tussen sy diere was hy gelukkig,” sê mev. Du Preez.
Op sy hoewe in Kookrus was hy op sy gelukkigste tussen sy perde, donkies, skape, beeste, bokke, hoenders, eende, ganse en honde. Min mense het egter geweet van die donker gemoedstoestand waarteen hy innerlik geveg het. ‘n Depressie wat moontlik veroorsaak is toe hy as kind in 2000 ernstige hoofbeserings by ‘n Sondagskoolkamp opgedoen het, waarna hy ‘n breinoperasie moes ondergaan.
Op sy laaste dag, 22 Julie, het hy nog vir oulaas ‘n biertjie saam met sy vriende gedrink. Al het niemand anders dit toe reeds besef nie, het hy van hulle afskeid geneem voordat hy die tou geneem het vir sy laaste aksie op aarde.
Die video wat hy agtergelaat het, gee aan sy gesin ‘n kykie in die onhanteerbare psigiese pyn waarmee hy innerlik geworstel het. “Hy het net gesê hoe vreeslik moeg hy was en dat hy nie meer kon aangaan nie. Hy wou net by Jesus se voete gaan rus,” sê sy ma, wat ondanks dié insig steeds gebroke is.
Sy put wel baie troos uit die boek “Om die ondraaglike te dra”, wat deur die voormalige Vanderbijlparkse predikant, ds. Henk Gous, geskryf is nadat sy dogter ook haar eie lewe geneem het.
Eugene word buiten sy ma oorleef deur sy stiefpa Johan, (sy eie pa is ses jaar gelede oorlede), sy vrou Susan, hul 2 kleuterdogtertjies, sy broer Ricus, suster Jacqueline en aanstaande swaer Adolf Potgieter.
* Die gesin bedank graag vir Willie en Marlene van Martins Begrafnisondernemers vir die sensitiewe wyse waarop hulle Eugene se roudiens behartig het. “Veral vir Willie by die kerk – vandat die lykswa gestop het tot dit weer weggery het. As moeder van Eugene het dit baie vir my beteken,” sê mev. Du Preez.
Foto onder: Wyle Eugene Potgieter (36).
**********************************************************************************