Die HS Sasolburg het die volgende skrywe oor Rina op hul Facebookblad gedeel:
Wat ’n merkwaardige en uitsonderlike vrou, Rina het diep spore gelaat op al die terreine waarby sy betrokke was.
Sy behaal in 1982 haar B.A.-graad, met onder andere Engels as hoofvak, aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Sy word in 1984 by HTS Sasolburg aangestel en was vir 28 jaar verbonde aan die skool waar sy Engels Eerste Taal, asook Engels Eerste Addisionele Taal onderrig het.
Sy was vir baie jare hulp-eksaminator en nasiener van Engels Eerste Taal. In 2002 tot 2010 was sy eksaminator in al drie vraestelle van Engels Addisionele Taal. In haar jare by HTS het haar passie vir Engels selfs die onnutsige seuns geïnspireer om ’n liefde vir poësie en Shakespear te ontwikkel.
Met haar liefde vir tale was Afrikaanse debat én public speaking haar forté en sy was vir jare op die bestuur van die Vaaldriehoekse Hoërskole Debatvereniging.
In Januarie 2013 begin sy by Hoërskool Sasolburg as Departementshoof van Engels; ’n taak wat sy met onderskeiding verrig het.
Rina was ’n trotse oudleerling van HS Sasolburg. Sy het veral uitgeblink in tale en was van 1974 tot 1976 deel van die Cantabile-Jeugkoor van Hannes Loubser wat in die sewentigerjare die trots van SHS was. Haar skoolvriendinne sê sy was altyd net ’n sonstraal!

Daarbenewens het Rina ’n ongelooflike algemene kennis oor ’n wye spektrum gehad en was sy iemand om in jou span te hê wanneer daar musiekvasvra gehou is!
Sy het ’n groot liefde vir lees gehad en het haar lewenservaring, kennis en boeke vrylik gedeel. Party mense het na haar as die “walking library” verwys!
Sy het ’n baie fyn humorsin gehad en daar was altyd tyd vir ’n grappie of twee. Alhoewel Rina haar lewe lank ’n hartkondisie gehad het, het sy haar nooit deur haar siekte laat definieer nie. Sy was vir ons almal ’n inspirasie en het elke dag blymoedig geleef.
Sy was nooit in haarself gekeer nie en het liewer gekyk wat sy vir iemand anders kon doen. Een van haar kollegas by HTS het eendag gesê dat Rina altyd lyk of sy pas goeie nuus ontvang het!
Rina het einde 2021 afgetree, maar het steeds met alles en nog wat gehelp, en ondersteun waar sy kon.
Haar liefde vir diere is alombekend. Selfs die losloper katte by die skool kan daarvan getuig!
Onse Rina was ’n sielsgenoot vir baie kollegas en vriende en gaan ’n groot leemte laat.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
