Local newsNewsNews

Dit was nou ‘n lekker sportdag

Besonders. Spesiaal. 'n Belewenis. Drie woorde wat die Eureka Spesiale Sportdag opsom.

VEREENIGING. – Vrydag, 26 Augustus 2022 was ‘n groot dag vir die leerlinge van verskeie skole vir kinders met fisiese en intellektuele gestremdhede.

Hul atlete het by die Eurekaskool saamgetrek vir die skool se Spesiale Sportdag.

Een van die leerlinge van Eurekaskool dans opgewonde saam Foto: Gerda Bruinette

Plaaslik is die Vaaldriehoek deur onder andere Eurekaskool en Lewensligsentrum verteenwoordig. Ander het van so ver as Johannesburg en Welkom gereis vir die geleentheid.

“Dit was nog donker toe ons moes opstaan en ry”, het een van die Amariskool van Welkom se leerlinge vertel. Hulle was almal kinderlik opgewonde om deel te neem.

“Ek gaan van die kant tot daai kant hardloop,” het die een atleet vertel. “Ek gaan wen. Ek het hard geoefen.”

Die NWU-mascot saam met van die leerlinge van Hamletskool in Johannesburg Foto: Gerda Bruinette

Hulle glimlag vir die kamera. Party is bietjie sku, maar dis duidelik daar word in die Vrystaat Afrikaans gepraat. Hulle groet vriendelik, skud hand en deel drukkies uit.

By ‘n ander skool se afdak is ‘n jong outjie besig met opstote. Hy warm op vir sy deelname. Min gesteur deur die ander se opmerkings.

Daar was ‘n verskeidenheid van items, van naellope tot by kruip en rolstoelresies, doelgooi en doelskop.

‘n Hele span dosente en werknemers van die NWU het kom help om as baanbeamptes op te tree.

Dr Amanda Lombard, Eurekaskool se hoof, het die dag geopen met skriflesing en gebed. Daarna het die NWU mascots en Transvalia se leiers op die veld verskyn en onder luide toejuiging saam met die kinders gedans en gesing.

Atlete van die Amariskool in Welkom Foto: Gerda Bruinette

Met elke item was die aanmoediging oorverdowend. Elkeen wat deelgeneem het, het ‘n medalje ontvang.

Die kinders se oë het geskitter, daar is baie gelag en elkeen het van trots gestraal wanneer hul item voltooi is.

Meer as een toeskouer het kort-kort trane afgevee. Die entoesiasme waarmee die kinders die dag aangedurf het, het die hartsnare geroer.

Hier het dit gegaan om die kinders en hul het hulself gate uit geniet.

Eurekaskool het op hul Facebookblad die skool se personeel, die seremoniemeester Shawn Deysel en ander vrywilligers bedank vir hul goeie spanwerk en hulp op die dag.

Hulle het ook hul borge wat die dag moontlik gemaak het bedank. Die borge was Cancun Spur, Maverick Spur, CBI Electric, Century 21 Vanderbijlpark, Hammond Pole Attorneys, NWU- Vaal Kampus en TC Radio Communications.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button