NewsNews

Comrades-ultramarathon: Twee dood, 82 in hospitaal behandel

Twee atlete wat Sondag (28 Augustus 2022) aan die moordende Comrades-ultramarathon tussen Pietermaritzburg en Durban deelgeneem het is dood nadat hulle tydens die wedloop inmekaargesak het en ’n verdere 82 atlete is volgens die Comrades-marathonvereniging in hospitale behandel.

Mzamo Mthembu (37), ’n atleet van die Hollywoodbets-atletiekklub in Amanzimtoti, is dood nadat hy tydens die wedloop by Pinetown inmekaargesak het.

Volgens ‘n plasing op die Hollywoodbets-atletiekklub se Facebook-blad is hy na die Westville-hospitaal geneem waar hy oorlede is.

Die klub het Maandag hul medelye teenoor Mthembu se familie en vriende uitgespreek.

Atlete en omstanders pas Sondag (28 Augustus 2022) kardiopulmonêre resussitasie op ‘n atleet toe nadat hy by Old Main-weg by Drummond, net voor die halfpadmerk, inmekaargesak het. Foto: Christiaan Cloete

Phakamile Ntshiza (47), ’n atleet van die Adventist-atletiekklub in Pretoria, is oorlede nadat hy in Old Main-weg by Drummond, net voor die halfpadmerk, inmekaargesak het.

Atlete het Sondag met kardiopulmonêre resussitasie probeer om sy lewe te red, maar hy is oorlede.

Volgens Rowan James, die direkteur van die Comrades-wedloop, was Ntshiza reeds dood toe noodhulpbeamptes van Netcare op die toneel opgedaag get.

Dr. Jeremy Boulter, die Comrades-marathonvereniging se wedloopdokter, het Dinsdag (30 Augustus 2022) in ‘n verklaring gesê dat 341 atlete behandeling by die mediese fasiliteit by die eindpunt by die Moses Mabhida-stadion ontvang het.

Altesaam 221 van hierdie pasiënte is in die mediese tent behandel, terwyl 120 behandeling (wat masserings, ligte behandeling en verbande insluit) in die St. Johns-tent ontvang het.

Volgens Boulter is 82 pasiënte in die hospitaal behandel. Altesaam 28 van hulle is deur die mediese fasiliteit by die eindpunt verwys.

Boulter sê 19 pasiënte is in die hospitaal opgeneem, waarvan 7 van hulle in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is.

Hy het Dinsdag gesê dat die paar pasiënte wat steeds in die hospitaal is, in ‘n goeie toestand is en binnekort ontslaan sal word.

Dr Boulter sê: “Die Comrades-marathon is ‘n moeilike wedloop. Die doel van ons uitgebreide mediese voorsienings is om ons toe te laat om atlete in omtrent enige mediese gebeurlikheid te help indien die behoefte ontstaan.”

Hy sê: “Die meerderheid van die hardlopers wat by die mediese fasiliteit aangekom het was ontwater en uitgeput. Hoewel dit redelik geringe simptome is, het ons mediese personeel nogtans ‘n besige dag gehad, maar alles in hul vermoë gedoen.”

Charné Bosman, wenner van 2016 se Comrades-ultramarathon, is ook gehospitaliseer nadat sy na 65km se hardloop Sondag in Pinetown inmekaargesak het.

Sy het die hospitaal geslaap.

Bykans 14 500 atlete het vanjaar gekwalifiseer om aan die moordende 90km-ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg deel te neem.

Ongeveer 13 000 van die atlete het Sondag deelgeneem.

Dit is die eerste keer sedert die Covid-19 pandemie wat die wedloop weer gehou word.

Die 37-jarige Mzamo Mthembu van Amanzimtoti is dood nadat hy Sondag tydens die Comrades-ultramarathon in Pinetown inmekaargesak het. Foto: Verskaf
Die 47-jarige Phakamile Nthiza van Pretoria, wat Sondag voor die halfpadmerk inmekaargesak het. Hy was reeds dood toe noodhulpbeamptes by die toneel opgedaag het. Foto: Facebook
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button