Somerfees. Vaaldamfees!
Onthou om nou al jou dagboek skoon te maak vir die Somerfees!

VAAL MARINA. – Die NG Kerk Deneysville beplan ‘n groot Somerfees op 1 Oktober 2022. Die fees sal op Plot 97, Vaal Marina op die oewer van die Vaaldam onder die bome aangebied word.
Vaal Marina is geleë aan die suidekant van die Suikerbosrand en bied pragtige uitsigte oor die Vaaldam en die heuwels van die Suikerbosrand. Op 1 Oktober gaan daar van vroeg tot moeg gekuier word.

Vir die kinders sal daar gesigverf, springkastele, ‘slip-a-slide’, ponieritte, ‘n spookasemstalletjie en springmielies wees.
Oud en jonk kan saam kom sandkastele bou. Die organiseerders voorsien die grafies en emmers.
Watergeesdriftiges kan op bootritte gaan en hul verlustig aan die bootuitstallings wat gehou gaan word.
Avontuurlustiges kan op ‘n pypkarrit gaan of die quadfietsbaan aandurf, bring net jou eie quad en valhelm saam.
Dan is daar natuurlik ook nog die stalletjies met o.a klere, juwele, tuisgebak en ander verrassings.
Onthou om honger op te daag, want die gemeente se mense is bekend vir die lekker kos wat hul maak.
Vir die Somerfees beplan hul hamburgers, skaapvleis op paninni broodjies, sosaties, boereworsrolle en wildspasteie.
Die soettande kan verseker wees dat daar pannekoek gebak sal word en vir die groot dors is daar koffie, tee en yskoue koeldrank.
Wanneer jy voetseer geloop is en lekker geëet het, kan jy ook net sit en ontspan. Daar sal deurlopend deur die dag iets wees om te aanskou of om na te luister.
Dit sluit in vertonings deur die brandweer en die SAPD se watervleuel. Verskeie sangers, o.a Armand du Preez gaan optree.
Die aand is daar ‘n boeredans met musiek verskaf deur Die Kapperjollers orkes. Kaartjies vir die dans kan op die terrein by die sosatie en worsbroodjie stalletjie gekoop word.
Jou kaartjie sluit in ‘n vleispakkie vir braai asook pap en sous.
Onthou om nou al jou dagboek skoon te maak vir die Somerfees!
Plek: Plot 97, Vaal Marina. 26º 54’ 22.4″S 28º 12’28.6″ E
Vaalmarina is geleë langs die R54 op die pad tussen Vereeniging en Villiers.
