Eurekaskool se skakelbeampte leef in geloof
Ons maak nader kennis met Santie Sauermann, Eurekaskool se skakelbeampte. Die een met die sagte hart vir die kinders en ‘n gawe om fondsinsamelingsprojekte te organiseer.
VEREENIGING. – Santie Sauermann deel al vir jare die lief en leed van die Vaal se mense. Sy het in Klerksdorp grootgeword waar sy in 1988 aan die Hoërskool Schoonspruit gematrikuleer het. Daarna het sy haar loopbaan by die destydse Volkskas bank begin.

Haar eerste man het in die Vaaldriehoek werk gekry en dis hoe haar pad met die Vaal se mense gekruis het. “Ek het lank geneem om aan te pas, maar as die plek en sy mense eers in jou hart val, dan is dit vir ‘n leeftyd,” vertel sy.
Oor die jare heen was sy by verskeie skole en instansies as skakelbeampte en fondswerwer betrokke, van Destinataskool tot by Laerskool Suikerbos. Sy was Eurekaskool se fondswerwer en skakelbeampte van 2009 tot 2017 waarna sy eers ‘n paar jaar gerus het.
Nou is sy weer volstoom deel van die Eureka-span. Santie het ‘n sterk geloof en laat haar deur niks onderkry nie.
Sy doen wat sy doen vir die Koninkryk van God en leef haar geloof daagliks uit. Sy is ook betrokke by haar kerk se lofprysing en aanbiddingspan waar sy een van die voorsangers is.
Musiek was nog altyd een van haar passies, en behalwe om te sing, speel sy ook klavier. Sy is kreatief en altyd aan die gang. Santie was op haar dag ook ‘n nasionale netbal skeidsregter wat vele wedstryde suksesvol geblaas het.

Haar hart is maar altyd by die kinders en elkeen in Eurekaskool lê haar na aan die hart. “Ek dink party dae raak mense moeg vir my omdat ek altyd besig is om geld te vra, maar ek doen dit vir die kinders. Ek glo daarin om ‘n positiewe verskil te maak,” vertel sy met ‘n glimlag.
Sy geniet dit om groot projekte aan te pak en te organiseer. So was sy een van die stigters van HTS Vereeniging se Tekkiefees en was ook destyds betrokke by die Eureka VaalSter-fees en die Jesus Leef Fees in 2010.
“Ek het ‘n passie vir mense. Om so ‘n projek te organiseer is stresvol, maar ek geniet die uitdagings.”
Elke geleentheid word met dieselfde entoesiasme aangepak en vir elkeen wat skakel is daar ‘n spesiale dankie en positiewe woord.
Haar seun is tans ‘n duiker in die vloot in Simonstad en trou eersdaags. Santie droom daarvan om eendag in die Kaap te gaan aftree om nader aan haar kinders te wees.
Tot dan leef sy elke dag voluit en dra die skool en haar kollegas se belange op die hart.
“God seën my elke dag en daarom kan ek doen wat ek doen, want ek weet hier maak ons ‘n verskil in kinders se lewens,” verklaar sy met ‘n glimlag en ‘n glinster in die oë.

