LifestyleLocal newsNews

Moenie ons oues voortydig begrawe nie!

Soms kan van hierdie oues nog baie produktief wees, maar helaas, hulle word uitgeskop

Kallie du Plessis van Vanderbijlpark skryf:

Hoe leef mens na aftrede? Baie honderde voor my en baie na my gaan nog hierdie vraag vra. Vir 40 of 45 jaar werk mens van vroeg tot laat om jou ideale en drome te verwesenlik, jou gesin te versorg en miskien soms met vakansie te gaan. Tog is daar bitter min onder ons wat kan sê dat ons regtig gerieflik afgetree het, al jou mediese uitgawes kan dek en nou net sorgeloos kan leef.

Terwyl mens jonk en gesond is, is die uitgawes net te veel: huisverband, karskuld, kleuterskole en skooluitgawes en later nog die universiteite se kostes. Van spaar is daar bykans nie sprake nie, dis ‘n gespook en gespartel om liggaam en siel bymekaar te hou.

Daar is bitter min wat die staat doen en ook die privaatomgewing daarbuite om die lewens van die oues van dae gerieflik en sorgvry te maak. Inteendeel, mediese fondse jaag juis premies op want oumense is hul duurste lede, so doen ook tehuise en versorgings instansies want die versorging is intens. Die luukse blyplekke met groot tuine en binnenshuise swembaddens is haas onbekostigbaar en daar is maar enkeles wat poog om ‘n mens te versorg wat sy lewe vir sy gesin en die lewe daarbuite opgeoffer het. Is dit nie ‘n skande nie?

Soms kan van hierdie oues nog baie produktief wees, maar helaas, hulle word uitgeskop om hul bekwaamhede onder stof te laat vergaar. Dit is tyd dat die staat en die privaatsektor uit hulle winterslaap ontwaak. Ons is hier, ons kan nog en wil nog ‘n bydrae lewer; ons het kennis van onskatbare waarde. Ons is getrou, bly nie weg van die werk nie en is verantwoordelik. Moenie ons begrawe voor die tyd nie daar is nie.

 

**************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button