VEREENIGING. – Die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir infrastruktuur en ontwikkeling, Nico de Jager, sê in ‘n verklaring gesondheidsorgfasiliteite in Gauteng is “op die rand van ineenstorting” weens swak beplanning en projekbestuur.
As gevolg daarvan word inwoners van dié provinsie blootgestel aan swak gesondheidsdienste en lang wagtye.
Die DA sê hy het verskeie gesondheidsorgfasiliteite in die provinsie besoek, insluitend die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, die Kopanong-hospitaal in Vereeniging en die Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark.
De Jager sê bestuurders van die Gaugtengse Department van Infrastruktuur en Ontwikkeling was nêrens te vinde tydens die besoeke nie.

“Tans is daar 238 gesondheidsorg fasiliteite wat hospitale, klinieke, lykshuise en sorgsentrums waarvoor daar ‘n begroting van R829 miljoen is.
“Dit is nie genoeg nie. Dit is daarom baie belangrik dat die geld reg aangewend word en wys spandeer word.
“Die stelsel werk eenvoudig nie. Bestuurders van hospitale en fasiliteite het beperkte verantwoordelikheid en kan op die meeste ligte en krane vervang.
“Wanneer ‘n pyp bars, ketels breek of hyskrane ingee is die proses om dit te herstel of te vervang so omslagtig dat dit somtyds weke en selfs maande neem om dinge reg te maak,” veruidelik De Jager.
De Jager meen die enigste manier om hierdie kwessie aan te spreek is om proaktiewe instandhoudingsprojekte an stapel te stuur, wat behoorlik beplan word en waaraan duidelike tydsraamwerke gekoppel word.
Hy stel voor dat dit voor die aanvang van die nuwe finansiële jaar gedoen word.
“Dit sal verhoed dat daar versoeke ingedien word om die projekte na ‘n volgende finansiële jaar te laat oorrol en verseker dat die projekte gefinaliseer word.
De Jager meen dit is ook belangrik om kontrakbestuur in die departement te versterk en dat duidelike standaarde en riglyne in plek gestel moet word sodat daar nagevolge is vir swak bestuur en swak werkmanskap, wat dikwels daartoe lei dat kontrakteurs herhaaldelik moet terugkeer om hul foute reg te stel.
“Die DA vra ook dat die Departement van Gesondheid en Infrastruktuur Ontwikkeling ‘n lys van al die gesondheidsorgfasiliteite in die provinsie saamstel, sowel as die infrastruktuur verbeteringe wat by elke fasiliteit benodig word,” sê De Jager.
Die DA sê hy sal aanhou om druk op die regering te plaas om instandhoudingsbegrotings te laat de-sentraliseer sodat hulle met instandhoudingswerk kan begin.
