Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Verlede naweek was 'n rowwe sportnaweek. Eers Malcolm Marx wat homself as die sterke onder die sterkes bewys het en toe die Comrades marathon. My senuwees was gedaan. Ek herstel nou nog...

RUBRIEK. – Ek is moeg. Gedaan. My senuwees is klaar en ek is agter met my werk. Oor sport. Rugby, krieket en die Comrades Marathon om presies te wees.

Okay, nie soseer die krieket nie. Ek het net so hier en daar gevolg, maar daardie rugbywedstryd Saterdag op my nugter maag!

Ai man. Hoe om nie jou naweek af te skop nie … Daar was vir my net drie hoogtepunte. Onse Kwagga se twee drieë en toe Malcolm Marx die grote Pieter-Steph du Toit bokant hom balanseer sonder om eers ‘n gesig te trek.

Die Hulk en al wat ‘n ander sterk man is kan gaan slaap. Marx is by verre die sterkste. (Is! As jy wil stry, gaan ek hom bel om jou te kom regsien. Ek is seker ek ken iemand wat iemand ken wat familie is van sy kleinneef se tannie se oom – ons joernaliste het baie kontakte!)

Nou het jy my skoon van my spoor af en dit oor die beste haker in die wêreld, al verstaan die afrigter dit blykbaar nie so lekker nie.

My eintlike uitputting het te doen met die Comrades Marathon. Ek het baie respek vir mense wat kans sien om dit aan te durf.

Self het ek nog nooit die wens gehad om myself so te moor nie. Op skool wou ek dood as ons net om die baan moes draf. Hoekom draf as mens kan loop?

Ek kon nie kyk nie, maar het wel agtergekom mens kan darem mense wat jy ken op die internet volg.

Tik net hul name in en siedaar, onder hul name verskyn daar hoe ver hul al gedraf het en hoe lank hul al op die pad is.

Nie dat ek baie mense ken wat die uitputtingstog die jaar aangedurf het nie. Ek het gesien die Vaal Atletiekklub het nege lede op die pad gehad, maar van die nege ken ek net my kollega, Christiaan Cloete.

Hy het sy 14de Comrades aangepak. Laerskool Kollegepark se hoof, Coenie Herbst, het sy 28ste Comrades die stryd aangesê. Van Pietermaritzburg tot in Durban, 89.9 km.

Ek het die webtuiste met die twee se vorderingsinligting oop gelos en met die dag se dinge aangegaan. Kort-kort geloer. In my verbeelding gesien hoe draf die twee. Die laerskoolhoof en die joernalis.

Ek het heeldag die skerm dopgehou

Ma kom op ‘n stadium verby. “Los nou eers dat ons ry. Hulle sal beter vorder as jy nie die hele tyd daarna staar nie. Wie kan dan nou ook hardloop as almal jou so dophou?” wil sy ewe ernstig weet, al sien ek net name en ‘n tydbaan.

Later raak ek slim, volg hulle op ‘n kaart. Haal verlig asem as hulle verby die skêrprentjies (afsnypunte) op die kaart is en raak bekommerd as die pas verslap.

“Hoe vorder hulle?” wil Ma voorkant na 3 uur toe weet. “72 en 78km onderskeidelik,” sê ek en ‘kliek’ nog ‘n slag op die kaart om te sien hoe ver is die volgende waterpunt, asof dit die twee manne enigsins sal help.

“Dis te warm,” sê Ma. “In die verlede het hulle altyd in die winter gehardloop. Daai arme mense.”

Ai ja, die arme atlete in die bloedige KZN-son. Hier het my koffie nou yskoud geword, en ek sal tot waffer tyd vanaand moet werk, want dit voel vir my ek is nou al drie keer tussen Pietermaritzburg en Durban om ‘n oog oor die twee bekendes te hou en het ek nog nie een artikel klaar nie! Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button