Local newsNewsNews

Geloof en sin vir humor dra haar na gru-ongeluk

Ek het by Annemare Badenhorst gaan kuier wat steeds moedig glimlag al het ‘n motorongeluk haar 15 jaar gelede met ‘n mate van breinskade gelaat, en moet sy nou met ‘n rolstoel oor die weg kom.

VEREENIGING. – Annemarie Badenhorst (45) lag en gesels lekker. Net soms struikel sy oor haar woorde.

Die ongeluk het nie net die beweeglikheid van haar regterkant gevat nie, maar het haar ook met ‘n groot breinbesering gelaat.

Dit het meer as 15 jaar gelede gebeur. Sy kan nie die ongeluk onthou nie. “Ek was die aand op pad Johannesburg toe en hulle het my motor die volgende oggend gekry,” vertel sy.

Die mense wat die motor teen die draad naby die ou Blokhuis op die R59 gevind het, het haar werk gebel, wat haar broer in die hande gekry het. Eers daarna is Annemarie gevind, meer as 10 m van die motorwrak af.

Sy was ernstig beseer en ‘n helikopter is gekry om haar na die Milpark Hospitaal te vervoer. “My eerste en enigste helikopter rit en ek kan niks onthou nie,” slaan haar skerp sin vir humor deur.

Na die ongeluk was haar lewe nooit weer dieselfde nie. Sy was meer as vyf maande in die hospitaal en later in ‘n rehabilitasiesentrum. Verskeie operasies is gedoen, onder meer ‘n breinoperasie.

Sy moes leer om met ‘n rolstoel oor die weg te kom. Vandag bly sy en haar ouers by haar een broer en sy vrou.

Dit was juis haar skoonsus wat vir Annemarie die spesiale lêer gemaak het. Sy noem dit haar “Bybel”.

Dit bevat alle inligting wat oor die ongeluk ingewin kon word, asook haar mediese verslae en foto’s van die lang pad na haar nuwe normaal.

Daar is bladsye met boodskappe van bemoediging en gebede van mense. “Ek ken nie eens al hierdie mense nie, maar hulle het almal vir my gebid,” vertel sy.

Daar was ‘n tyd na die ongeluk wat sy weer gewerk het. Dieselfde maatskappy wat haar net na matriek in 1995 aangestel het, het haar weer in diens geneem. Die keer as CCTV-operateur. “Eers kon ek net vyf ure werk, maar later het ek 12 uur skofte gewerk,” sê sy trots.

Ongelukkig het die maatskappy ‘n paar jare gelede gesluit. Nou hou sy haar besig met Tik Tok video’s en haar spesiale Facebookgroep, Lets be friends.

Sy luister graag musiek uit die 80’s en Afrikaanse musiek. “Jennifer Zamudio is my gunsteling. Ek probeer altyd om by haar vertonings uit te kom,” vertel sy met ‘n glimlag.

Dan raak sy ernstig. “Ek wil hê mense moet my storie hoor. Deur dit alles is ek nog steeds staande. Ek kon dood gewees het, maar ek lewe nog. Daar is ‘n Here.”

Annemarie maak gebruik van ‘n elektriese rolstoel, maar ongelukkig het die raamwerk met die jare al gebuig en druk dit teen die voorwiele as sy agteruit wil ry of draai.

Die rolstoel het ‘n goeie diens nodig. Indien daar iemand is wat kan help om die rolstoel weer 100% te kan kry of ‘n donasie wil maak, kontak vir Annemarie by 076 288 7552.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button