LifestyleLocal newsNews

Argiefberig: Twee onderwyseresse sterf op slag tydens vakansie

6 Desember 1998 was ‘n hartseerdag vir Vereeniging toe twee geliefde onderwyseresse saam gesterf het

Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na groot nuusgebeure wat die mense van ons stad diep geraak het. Hierdie is een so ‘n gebeurtenis wat baie mense van Vereeniging in rou gedompel het:

6 Desember 1998 was ‘n hartseerdag vir Vereeniging toe twee bekende en geliefde onderwyseresse aan die begin van hul Kersvakansie in ‘n botsing in die Kaapprovinsie gesterf het.

Me. Marthie Lee (40) en me. Megan Goosen (51), wat albei aan die Riverside High School in Drie Riviere verbonde was, is dood toe hul voertuig reg van voor teen dié van ‘n jong dokter gebots het. Me. Lee se moeder het ook in die botsing gesterf. Die ongeluk het sowat 35 kilometer buite Richmond in die Kaap gebeur. Die dokter is in ‘n koma en met kritieke beserings in ‘n hospitaal in Bloemfontein opgeneem. Dit is nie bekend of hy oorleef het nie.

Vaalweekblad het destyds berig dat me. Lee en me. Goosen departementshoofde van onderskeidelik die Afrikaanse- en Beroepsleidingdepartement was en dat abei in Drie Riviere gewoon het. Albei vroue het sowat 20 jaar by Riverside High skoolgehou.

Me. Goosen het leerlinge met beroepskeuses bygestaan en roosters opgestel, en sy was ook die skoolvoorligter en eksamenopsiener.

Me. Lee het elke jaar die skool se prysuitdelings gereël en was bekend daarvoor dat haar matriekleerlinge besonder goed in Afrikaans presteer het. Sy was ook ‘n staatmaker by die plaaslike Rapportryers en het elke jaar Afrikaanse debatkompetisies tussen skole namens die organisasie georganiseer.

Me. Goosen is ‘n week na haar dood in Vereeniging veras en me. Lee is op ‘n familieplaas in Potgietersrus begrawe.

Vaalweekblad huldig vandag weer dié inspirerende vroue wat elkeen op hul eie manier ‘n positiewe stempel op die jeug van Vereeniging afgedruk het.

 

Me. Megan Goosen (links) en me. Marthie Lee, wat albei departementshoofde by Riverside High School in Vereeniging was, het op 6 Desember 1998 saam-saam in ‘n motorbotsing in die Kaapprovinsie gesterf.

***********************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button