Local newsNewsNews

Nege honde kom om toe huis in Meyerton afbrand

Die gesin het alles in die brand verloor.

Die Erasmus-gesin van Meyerton het hul woning verloor toe ‘n huis in Pierneef Boulevard op Vrydag 26 Augustus 2022 afgebrand het.

Nege van hul honde het in die vlammehel omgekom.

Die Erasmus-gesin woon tans in ‘n tent wat deur die Midvaal-brandweer beskikbaar gestel is.

Heidi Erasmus (48) sê die woning was nie verseker nie.

Die familie doen ’n beroep op lede van die gemeenskap om hulle finansieël by te staan sodat hulle hul woning kan herbou.

 

My seun het die vlamme met emmertjies water probeer blus. Ek het om die huis gehardloop en in die digte rookwolk probeer voel waar die skakelaar van die pomp is sodat ek dit kon aanskakel en die brand met ‘n tuinslang kon blus.”

So beskryf Heidi die chaotiese paar oomblikke toe haar woning in Pierneef-boulevard in Meyerton Vrydagmiddag, 26 Augustus afgebrand het.

Erasmus sê: “Ek kon nie asem kry nie, toe moes ek uit die huis gaan.” Die gebou wat in die brand verwoes is, is een groot huis wat in twee woonstelle verdeel is. Erasmus is die eienaar van een van die eenhede.

Nege van haar honde het in die brand omgekom. Drie van haar honde, Akila, ‘n Duitse herdershond, Jessica, ‘n poedel en Babatjie, ‘n jong Deense hond, het die brand oorleef. Volgens Erasmus was sy  die betrokke dag na die OK Supermark op pad om koeldrank te gaan koop.

Haar seun Jeandré, was alleen op die erf.

Ek het gaan koeldrank koop, want my man, Jan Erasmus (47), sou later die aand van Durban af vlieg waar hy aan ‘n projek werk. Ek het net by die OK gestop toe Jeandré my bel en sê die huis is aan die brand,” vertel sy.

Erasmus het onmiddellik na haar huis gejaag en haar seun probeer help om die brand te blus. Dit was tevergeefs.

Jeandré, wat by die huis was toe die brand ontstaan het, sê hy het in die middelste vertrek gelê en slaap omdat hy siek gevoel het. Hy het wakker geword van die reuk van rook. “My eerste reaksie was om uit die bed te spring. Ek het na die skuifdeur gehardloop, maar die skuifdeur was pikswart. “Ek het die deur oopgetrek en rook het uitgeborrel. Dit was toe wat ek die vlamme in my ma se kamer gemerk het. “Ek het na die bed terug gehardloop, my foon gegryp en my ma gebel,” vertel die seun.

Jeandré het die pomp probeer aanskakel, maar dit het nie gewerk nie.

Volgens Heidi het hulle nie versekering op die huis gehad nie. Hulle bly tans langs hul afgebrande huis in ‘n tent wat deur Midvaal-brandweer beskikbaar gestel is.

Johanna Erasmus, die eienaar van die tweede woning, sê daar was geen meubels in haar huis toe die brand daar ontstaan het nie. “Daar was twee grassnyers en ‘n waterpomp binne die woonstel,” vertel sy.

Erasmus verhuur die eiendom en was in die proses om die woonstel skoon te maak.

Dit volg nadat die vorige huurder, Eugene Potgieter, sy eie lewe geneem het. Vaalweekblad het vroeër oor Potgieter se dood berig.

Volgens Erasmus sou die nuwe huurder 1 Oktober intrek. Volgens haar was haar tuinwerker Donderdag, 25 Augustus by die woonstel om te gaan skoonmaak. Sy het glo met haar kleinkinders in haar tuin gespeel toe sy ‘n oproep ontvang het waartydens sy meegedeel is dat die huis besig is om te brand en het toe na die toneel gehaas.

Die brandweer is ontbied, maar volgens Erasmus was daar nie onmiddellik water beskikbaar nie.

Volgens ‘n betroubare bron is daar glo uitdagings met toerusting.

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het na die voorval twee splinternuwe reaksievoertuie vir die Midvaal-brandweer teen ‘n koste van R2.3 miljoen elk bekom.

Die munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê die voertuie sal ‘n deurslaggewende rol speel in die munisipaliteit se vermoë om bystand te verleen tydens brandnoodgevalle.

Dit sal ons in staat stel om vinnige en doeltreffende reddingsdienste te bied en om beserings, verlies van eiendom en moontlike dood as gevolg van brande te vermy,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.

Mense wat bereid is om te help kan Heidi Erasmus se dogter, Yolande Webstock, by 073 823 7603 skakel.

Heidi Erasmus (48) en haar seun Jeandré Erasmus (18) bly nou in ‘n tent langs hul huis wat afgebrand het. Foto’s: Christiaan Cloete
Johanna Erasmus praat oor die brand wat op die perseel ontstaan het. Foto: Christiaan Cloete
Die huis wat in Pierneef Boulevard afgebrand het. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button