Christopher koning van Junior Afrika Gholf Ope
Die SA Kids International Junior Africa Open was van 22 tot 27 Augustus by San Lameer gehou. In totaal het 165 talentvolle jong gholfspelers van 15 verskillende lande aan dié internasionale toernooi deelgeneem. Maar dit was die Vaal se Christopher Smith wat koning gekraai het.
Christopher (‘n leerling aan HS Transvalia in Vanderbijlpark) en lid van die Heron Banks Gholfklub in Vaalpark, het uit die staanspoor die voortou geneem en dit oor die drie dae lange toernooi behou om die “Junior Africa Open boys 14” afdeling met 14 houe te wen.
Met dié voortreflike vertoning en oorwinning het Christopher outomaties gekwalifiseer vir die “Champions and World Champions for the year 2023” toernooie (datums sal later bekend gemaak word).
Hierdie was die derde oorwinning in ‘n ry vir Christopher. Sy driekuns volg nadat hy ook by die Serengeti en die Royal Kensington US Kids Junior Opens voortreflike spel gelewer het.
As deel van tradisie het die top SA spelers wat aan die Junior Afrika Gholf Ope deelgeneem het, teen die top internasionale spelers in ‘n spanwedstryd deelgeneem. Christopher het die SA span as kaptein tot ‘n 12.5 oorwining teen die internasionale span se 6.5 gelei.

