Local newsNewsNews

DA vra vir ondersoek rondom R20-miljoen eiendomstransaksie waarby Emfuleni betrokke was

Die Democratiese Alliansie (DA) vra dat ’n eiendomstransaksie waarby die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit in 2020/2021 betrokke was ondersoek word.

Volgens Dennis Ryder, die DA se voorsitter in die Vaal-gebied het die munisipaliteit ’n 116 hektaar eiendom (wat beskryf word as gedeelte 26 van die plaas Rietspruit) bekom vir ’n bedrag van R21 045 000.

Ryder sê hoewel die oordrag van die eiendom op 14 April 2021 plaasgevind het, die datum van die transaksie as 19 Mei 2020 aangedui word.

“Wat verbasend is, is dat die transaksie feitlik onmiddellik plaasgevind het nadat die eiendom deur die private eienaars aan ’n beslote korporasie vir ’n bedrag van R1 000 000 verkoop is.

“Dit blyk of albei transaksies gelyktydig in die aktekantoor verwerk is.

“Dit beteken dat die regering R20 045 000 meer betaal het as wat die verkoper op dieselfde dag vir die eiendom betaal het,” verduidelik Ryder.

Volgens Ryder blyk dit of die verkoper ’n wins van R20 miljoen gemaak het sonder ‘n duidelike rede.

“Dit lyk op die oog af na ’n volkome oneerlike en hoogs twyfelagtige transaksie wat gebruik is om ‘n bedrag van R20 miljoen rand uit die Emfuleni Munisipaliteit te onttrek. Dieselfde munisipaliteit verskyn gereeld in die media weens sy finansiële probleme,” sê Ryder.

Ryder vra dat die saak deur die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee (MPAC) ondersoek word om vas te stel hoe die transaksie plaasgevind het en met wie die verkopers ’n verhouding het.

Die waarde van die onontwikkelde stuk grond wes van Vereeniging het in drie jaar se tyd onverklaarbaar van R4,4  miljoen to R21 miljoen gestyg. Die grond sal teen huidige markkoerse teen nie meer as R4,6 miljoen gewaardeer word nie.

“Die spoor moet gevolg word sodat ons kan verstaan wie hul posisie misbruik het om die verkoper onreëlmatig verryk,” meen Ryder.

Volgens Ryder toon ’n voorlopige ondersoek dat die beslote korporasie deur ’n man en vrou besit word wat voorheen die eiendom in hul private kapasiteit besit het en dit glo in 2017 vir R4 428 000 gekoop het.

“Dit maak die transaksie selfs meer verdag, aangesien dit blyk of hulle die eiendom teen ‘n aansienlike afslag aan hul eie beslote korporasie verkoop het, vermoedelik om oordragkoste en kapitaalwinsbelasting te minimaliseer,” meen Ryder.

Ryder meen daar kan geen ander verduideliking wees vir die waarde van die grond wat in slegs drie jaar se tyd van R4,4 miljoen to R21miljoen gestyg het nie.

“Die Munisipaliteit het R181 422 per hektaar vir plaasgrond betaal. As ‘n aanwyser wissel die gemiddelde prys van landbougrond van R2 000 vir lae kwaliteit weiding tot R50 000 vir hoë-opbrengs saailande.

“Die plaas ter sprake is ’n stuk onontwikkelde grond wes van Vereeniging en sal waarskynlik teen huidige markkoerse teen die huidige markkoerse teen nie meer as R4,6 miljoen gewaardeer word nie.

“Die Demokratiese Alliansie eis derhalwe dat MPAC die transaksie ondersoek. Ons sal ook die Suid-Afrikaanse Inkomstedienste nader om die potensiële belastingvermyding in die transaksies onmiddellik voor die Verkoping aan Emfuleni te ondersoek, asook om te ondersoek of die wins wat deur die Beslote Korporasie gemaak is, verklaar is.”

“Ons sal ook ’n klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig maak sodat die korrupte verhouding tussen die verkopers en iemand wat noue bande met die munisipaliteit het ondersoek kan word.

“Aangesien die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ten tye van die transaksie onder administrasie was en administrateurs aangestel is om oorsig te hou rakende aspekte van verkryging en finansies sal die LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile, sowel as die administrateurs wat aangestel is ook verantwoordelik gehou word vir hierdie korrupte transaksie.

Dennis Ryder, die DA se voorsitter in die Vaal-gebied. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button