60 Jaar later en dié Sasolburg-egpaar staan steeds saam
SASOLBURG. - Ben (81) en Salomie (82) Jansen van Rensburg het hul in 1971 in Sasolburg gevestig en bly steeds na al die jare in dieselfde huis. Maar dit is nie die rede hoekom daar gespog moet word nie, ... die eintlike rede is dat die egpaar onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier het.
Ben en Salomie het in Johannesburg groot geword, waar hulle ook later as jongmense ontmoet en op 22 September 1962 getroud is.
Hul paaie het gekruis danksy Salomie wat daagliks verby Ben se ouerhuis gestap het. Sy het altyd sy ouers gegroet wat op die stoep gesit het. Ben was ook soms op die stoep, maar sy het hom nie gegroet nie, sy het gevoel hy moet eerste groet.
Toe sy eendag weer verby stap was Ben alleen op die stoep. Hy het haar gevra of hy by haar kan kom koffie drink, en die ys was gebreek. Vandaar het hul verhouding tot in volwaardige liefde vir mekaar ontwikkel.
Ben was ‘n elektriese treindrywer en Salomie het ook vir die spoorweg gewerk.
Nadat hulle getroud is het Ben besluit hy sien sy familie te min en het besluit om verder te gaan leer. Nadat hy sy ambag suksesvol voltooi het, het hy ‘n pos by Sasol gekry waar hy vir 28 jaar gewerk het. Ben het daarna sy eie instandhouding besigheid begin.
Die egpaar spog met twee dogters, drie kleinkinders en vier agterkleinkinders. Behalwe om soveel moontlik tyd saam met die familie te spandeer, geniet Ben en Salomie dit ook om tuin te maak. Salomie het ook vroeër jare dit geniet om so nou en dan iets vir die kinders te brei.

Maar wat is hul wenresep?
Die twee se geheim tot ‘n suksesvolle huwelik is om altyd vir mekaar lief te wees en respek vir mekaar te hê, selfs deur die moeilike tye. Volgens hulle moet ‘n man en vrou ook nie geheime hê nie.
“Iets waarop ons altyd met trots en dank terug kyk is die feit dat ons saam bly staan het deur die moeilike jare en dat die liefde altyd oorwin het,” sluit die egpaar af.
- Vaalweekblad wens die egpaar geluk met dié reuse mylpaal.

