NewsNews

Voortrekkers op kamp

Die jong Voortrekkers het hul jaarlikse streekskamp by Doornkloof Plaas baie geniet.

VANDERBIJLPARK. – Maarten en Cya Van Helden stap kordaat in. Maarten (Gr 5) voor met ‘n tuisgemaakte vlag op ‘n stok. “Dis ons span se vlag. Ons was die seekoeie” beduie hy en trek net daar los met hul spankreet.

Cya en Maarten Van Helden. Foto: Gerda Bruinette

Dit is duidelik die jongman het die Voortrekkerkamp baie geniet. Hy en sy sussie is deel van die Orion Kommando in Vanderbijlpark.

Die twee het saam met meer as 600 ander kinders gedurende die Oktobervakansie op die plaas Doornkloof gekamp.

Die plaas, wat oorspronklik aan die Voortrekkerleier Sarel Cilliers behoort het, huisves verskeie aparte kampterreine elkeen met ‘n unieke naam.

Die graad 4’s kamp by Doornkamp, die graad 5’s by Kamp Klitsgras, die graad 6’e by Kamp Murgpyp en die graad 7’s by Avontuurkamp.

Orion Kommando se jongelinge wat Kamp Klitsgras bygewoon het. Elke en Marise Schönborn, Reuben Chalmers en Maarten van Helden Foto: Andries Visagie

Maarten kan nie uitgepraat raak oor Kamp Klitsgras nie. Van 1 – 5 Oktober het hul gespeel, geleer en nuwe kentekens verdien.

“Ons het lekker vuil geword,” beduie hy. Hy vertel ook opgewonde van al die lekker kos en die konsert wat hul aangebied het. Kamp Klitsgras is blykbaar dié kamp om op te wees en hy sing sommer die kamplied ook.

Sy sussie, Cya (graad 4) reken weer Doornkamp was lekkerder. Sy was in die Duikerspan en hul span het gewen!

Van die kentekens wat hulle verdien het sluit in noodhulp en handwerk. Wys my dan ook trots die sakkies wat hulle gemaak het.

Cya het die sweepvleg baie geniet, asook die watersports en die konsert. Die graad 4’s se konserttema was Kinderhelde en haar span het Racheltjie De Duiker opgevoer.

Gunther Mittermaier en Tristan Jooste van die Orion Kommando het Kamp Murgpyp aangedurf Foto: Andries Visagie

Die twee Van Heldens het in graad 1 by die Voortrekkers aangesluit. Albei is leerlinge van die Laerskool Emfulenipark.

Cya gaan beslis volgende jaar Kamp Klitsgras aandurf, maar Maarten is nog nie heeltemal oortuig oor Kamp Murgpyp nie. Die kamp word as die taaiste van die laerskoolkampe beskou met baie loop, uitdagings en pale wat gedra moet word.

“Maar, hulle het vir ons ‘n video gewys. By Kamp Murgpyp kan mens ook kleilat gooi en kettie skiet. Ek dink, ek sal tog die uitdaging aanvaar,” beduie hy ernstig.

Andries Visagie was een van die offisiere by Doornkamp. Hy sê die kampe word aangebied om die jongklomp ‘n kans te gee om dit wat hul deur die jaar leer prakties toe te pas.  Spanwerk, kameraadskap, samehorigheid en die bou van nuwe verhoudings is ook baie belangrik.

“As ek raad kan gee,” beduie Maarten so woes met die Seekoeie se vlag dat die lap van die stok afvlieg, “dan moet jy goeie tekkies, handskoene en ‘n hoed saambring.

“Daar is baie dorings. Dis warm in die dag. Kyk, ek het nog ‘n goeie tan. Dis koud in die nag. Bring langmou pajamas en leen jou pa se beskermende baadjie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button