Leroi positiewe rolmodel vir oud en jonk
Leroi Le Roux (34) is ‘n jongman wat elke aanslag van die lewe met positiewe vasberadenheid aanpak.
VANDERBIJLPARK. – Einde Augustus 2021 was Leroi Le Roux fiks en gesond. Hy het die een oggend soos gewoonlik gaan draf en gevoel sy enkel is seer toe hy by die huis kom.
Die volgende dag was sy hele been seer. ‘n Dag later het hy in soveel pyn verkeer dat hy dokter toe is. Daar is gevind dat sy infeksietelling oor die 500 was.
“Dr. Aucamp het gesê dit is ‘n wonderwerk dat ek nog leef,” onthou hy. Daarna het ‘n MRI-skandering gewys dat hy Spontane Kompartement-sindroom het.

Dié seldsame sindroom veroorsaak infeksie wat daartoe lei dat ‘n ledemaat sy bloedtoevoer verloor en die weefsel doodgaan.Leroi het dadelik ‘n operasie ondergaan om die dooie weefsel en infeksie te verwyder.
Dit is gevolg deur die een operasie op die ander. “Ek was lang tye in die hospitaal, maar later het hulle my huis toe gestuur en het ek die aarvoeding (drips) by die huis gekry. Die plek het in ‘n regte hospitaalhuis ontaard,” beduie hy.
Weens al die dooie weefsel wat hul moes uitsny, het hulle later ‘n spier uit sy bo-rug gesny en op sy been oorgeplant. Die keerpunt het in April 2022 gekom. Hy is weer vir ‘n operasie om infeksie uit sy tibia te sny.
‘n Week later was hy in ‘n apteek in die dorp, toe hy net ‘n klapgeluid hoor en sy been breek. Leroi is inderhaas weer na ‘n hospitaal in Pretoria geneem wat in hierdie tipe operasies spesialiseer.
Twee weke later moes hy die moeilike besluit neem en op Moedersdag vanjaar is Leroi se been geamputeer.
“Dit was vir my ‘n verligting en ‘n verlossing,” vertel hy rustig. “Ek het my af dae, maar ek dink die maande van operasies en pyn het my voorberei om die amputasie te aanvaar.”
Tussen September 2021 en Mei 2022 het hy 24 operasies ondergaan en was altesaam 78 uur onder narkose. “Ek is dankbaar ek leef en baie dankbaar vir al die mediese personeel wat my gehelp het.
Hulle is engele. Ek weet ook nie wat ek in die tyd sonder my vrou, familie en vriende sou doen nie.”
Leroi sê hy het sommer vroeg al besef hy sal moet positief bly, veral vir die mense rondom hom.
“Jy weet, dit gebeur direk met jou, maar jou mense leef in vrees vir jou part. Dit was tough, maar ek is dankbaar. Die hele proses het my verhouding met my vrou, famlie en met God net sterker gemaak.”
Hy het onlangs sy prostetiese been gekry en dit gaan nou al heelwat makliker. “Ek weet ek moet net aanhou. Ek glo ek kan nog ‘n verskil maak. Daar is ‘n rede waarom ek nog hier is.”
Dié dat hy ‘n paralimpiese silwermedaljewenner in diskus genader het vir wenke. “Ek kan al so met een kruk in die hand 28 m gooi,” glimlag hy.
Sy voormalige atletiekafrigter van sy skooldae het reeds gesê hy sal hom eersdaags kan begin help. Intussen bly Leroi ‘n positiewe voorbeeld vir almal rondom hom. Sy geloof is sterk, hy glimlag breed en skop sommer so ‘n slag met die prostetiese been in die lug vir die lekker daarvan.
Hy kan en hy gaan nog ‘n groot rol speel. “Dalk mentor ek nog kinders of net miskien kry ek nog eendag goud by die paralimpiese spele,” lag hy en sy oë vonkel vasberade.
