Polisievoertuig rol in ongeluk by foutiewe verkeersligte in Vereeniging
Foutiewe verkeersligte is vermoedelik een van die faktore wat tot die botsing bygedra het.
VEREENIGING – ’n Polisievoertuig het Woensdagoggend omgeslaan en op sy sy tot stilstand gekom ná ’n hewige botsing met ’n Nissan NP200-bakkie by die kruising van Beaconsfieldlaan en Joubertstraat in die middestad.
Volgens ooggetuies het die ongeluk omstreeks 06:00 gebeur toe twee voertuie by die kruising gebots het.
Die verkeersligte het ten tye van die ongeluk glo nie gewerk nie.
Die impak het daartoe gelei dat die polisievoertuig gerol en langs die sypaadjie naby ’n boom tot stilstand gekom het.
Die NP200 het aansienlike skade aan beide die voor- en agterkant opgedoen. Die bestuurder van die NP200 is ernstig beseer.
Twee passasiers is na die hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.
Die insittendes van die polisievoertuig is ook beseer en is per ambulans na Mediclinic geneem.
Owerhede het ’n ondersoek van stapel gestuur om die presiese oorsaak en bydraende faktore te bepaal.
Vaalweekblad het die polisie om kommentaar genader. Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Motoriste word versoek om uiters versigtig te wees by kruisings waar verkeersligte buite werking is, en om dit as ’n vierrigtingstop te ag totdat herstelwerk voltooi is.
