Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor hoenders wat nie wil stilstaan vir 'n foto nie en 'n verstrooide joernalis.

RUBRIEK. – Almal weet ek is nie die beste fotograaf nie. My kollegas is. Genade, hulle het sertifikate vir Afrika!

Maar ek, ek is ‘n skrywer. My kamera is altyd op outomaties gestel en ek mik en druk en hoop vir die beste.

Nie dat ek nie al kursusse bygewoon het nie. Desjare terug toe ek nog in die polisie was, het ons gereeld “joernaliste” opgelei vir die polisietydskrif.

Dan het ek ons hoofkantoor fotograaf nader gehark om vir die korrespondente meer oor fotografie te leer.

Ek het elke keer bygesit en steeds nie verstaan van lig en spoed en F-stops en wat nog alles nie.

Nou die ander dag, boikot my gebrek aan kreatiewe fotografie my toe weer. Ek wil hoenders afneem.

Daar is ‘n kompleks in die dorp waar die hoenders vrylik oor die gras van die kompleks rondpik deur die dag.

In die aand kom hul vanself hok toe. Die hok is in ‘n motorhuis en hul weet om so teen 19:00 in die somer huis toe te kom.

Maak hul eienaar in die dag sy verskyning, dan draf hul van oraloor agter hom aan in die hoop om ekstra mielies te kry.

Te oulik. Maar, toe ek hul nou moes afneem… Ek arriveer kamerasak oor die skouer. Lyk tog te professioneel.

Totdat ek myself weer in die bande knoop, my pen verloor en nie kan onthou waar ek my motorsleutel ingegooi het nie.

Uiteindelik mik ek die kamera in die rigting van die hoenders. Besef ek is hopeloos te lank en die hoenders te kort.

Ek sal moet nader aan die hoenders kom. My poging om op my hurke te sak is minder suksesvol, die ou knieë wil nie meer nie.

Ek stut my rug teen die duiwehok agter my en sak so ewe na benede. Probeer balans op my skroef­enkel hou en druk die knoppie ‘n paar keer. Hoop maar vir die beste.

Ag ja, by die huis gekom besef ek die foto’s gaan nie werk nie. Die foto van die haan lyk of hy sy alie vir my gewip het en die hen is totaal uit fokus.

Die kuikens is darem daar, maar die foto’s is totaal nikseggend. Kan darem sien hulle is aan’t ete.

Die mielies is hul stapelvoedsel, maar hul word ook as natuurlike peskontrole ingestem.

Blykbaar is daar nie ‘n teken van slakke en ander goggas wat plante vreet nie.

Die inwoners geniet ook die hoenders se eskapades en so tussen die mooie duiwe in die groot hok en die hoenders op die gras, kan mens jou verbeel jy is nou geheel uit die dorp en rustig op die plaas.

Dit los natuurlik nou nie my gebrek aan fotografiese kennis op nie. Net nou die dag weer neem ek die mooiste foto. Man, ek dog so by myself, die gaan nou ‘n treffer wees.

Totdat ek by die huis kom, my kamera oopmaak om die kaart uit te haal om die foto’s af te laai.

En niks sien nie. Toe ek opkyk lê my simkaart alweer eensaam op sy eie op die lessenaar.

Wanneer gaan ek onthou om voor ek die kamerasak gryp seker te maak die simkaart en battery is in? Verstrooid, dis wat ek is.

Gelukkig tog vir my mense wat verstaan en foto’s verskaf of geduldig later weer vir die kamera glimlag.

En gereeld help om my beursie, bril, notaboek, pen of motorsleutel te soek waar ek dit nog laas in hul sitkamers, buite of op ‘n tafel laat lê het.

Dit gebeur hopelik in die beste van families. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button