Clinton bult spiere in kompetisie van ‘n ander aard
Van persoonlike afrigter tot by professionele liggaamsbouer en nou hou Clinton Samons sy lyf model in 'n nasionale kompetisie.
VANDERBIJLPARK – Verlede jaar het Clinton Samons sy Pro Card ontvang en in sy eerste professionele liggaamsboukompetisie gestaan.
Sedertdien het hy sy sertifikaat as persoonlike afrigter verdien, groei sy besigheid stadig maar seker en was hy verlig om so bietjie asem te haal weg van kompetisies af.

Dit was totdat hy in Maart ‘n kompetisie gesien het op Facebook. Die sluitingsdatum was reeds verby, maar Clinton gooi nie so maklik tou op nie en as hy ‘n geleentheid sien, vat hy dit.
Hy het met die organiseerders kontak gemaak en by Johan Ungerer van The Next Opulent Model South Africa uitgekom.
Hierdie kompetisie word beskou as Suid-Afrika se grootste en gesogste model- en f iksheidskompetisie. The Next Opulent Model South Africa is ook die eksklusiewe vennoot van Top Model Worldwide London.
Johan het foto’s van Clinton aangevra, dit aan die keurders voorgelê en Clinton het dieselfde dag die goeie nuus ontvang dat hy as finalis in die Body of the Year-kompetisie goedgekeur is.
“Ek het net begin dink ek kan bietjie skiet gee op my dieet en strawwe oefenprogram. Ek het al vir my vrou, Charnay, vertel hoe sy sal moet vrede maak as ek ‘n boepie kry,” lag hy. Dis net praatjies want as persoonlike afrigter glo hy dat hy die voorbeeld moet stel vir sy kliënte.
Die voorbereiding vir die opkomende kompetisie is basies dieselfde as vir ‘n liggaamsbou kompetisie, dis net nie heeltemal so straf nie. Clinton is nie seker hoeveel finaliste in sy kategorie is nie, maar sal almal ontmoet tydens die MOPA-aand wat op 1 Mei plaasvind.
Tydens die glansgeleentheid kry die finaliste in al die kategorieë die kans om skouers te skuur met die ander finaliste, die borge en die beoordelaars. Dis ‘n netwerkgeleentheid so reg uit die boeke en die kans vir die finaliste om dalk net ‘n kontrak met ‘n borg raak te loop.
Die groot kroningsaand vind op 20 Augustus in Pretoria plaas. “Behalwe vir die fisiese voorbereiding, verwag die organiseerders dat ons gereeld op sosiale media oor die kompetisie post.
“Elkeen moet ook ten minste vyf kaartjies vir die MOPA-aand en 20 kaartjies vir die aand van die gala in Augustus verkoop,” vertel Clinton.
By die gala word by die 5 000 mense verwag, waaronder die borge en Suid-Afrikaanse sterre. Kaartjies vir die besondere geleentheid kan by Clinton bespreek word. WhatsApp hom by 083 453 8851.
