Ek sê maar net… Rioolgat ‘herstel’, maar gaan dit hou?
RUBRIEK - Ek het met my eie oë gesien die gat word opgevul, maar ek het 'n spesmaas alles is nie pluis nie. Hoe lank voordat dit weer inval?
RUBRIEK – Dit was vir maande die crème de la crème van riool poele. Die grote gat op die hoek van Evereststraat en Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark.
Vir maande het die rioolwater uit die gat geborrel en al hoe verder in Everest opgestoot. Die bossies het om die gat in die pad begin groei en teen laas week selfs begin blom. Gerugte was dat ʼn groot pyp gebars het.

ʼn Mens sou verwag dat dit reggemaak sou word met groot masjinerie, ʼn nuwe stuk pyp en warm teer. Toe nou nie.
ʼn Paar dae gelede was ʼn paar werkers om die gat besig. Geen teken van ʼn groot masjien nie, wel gesien hoe word sakke gruis in die gat gegooi.
Die bossies lê nou op ʼn hoop op die sypaadjie. Die motors ry oor die grys stuk waar daar eens ʼn gat was, maar dis net vasgestampte gruis.
Dit wil lyk asof dit weer wil begin insak en boonop hang die riool reuk steeds in die lug.
Is die probleem opgelos? Is die gat regtig herstel? Wat van die pyp? Of is dit alles oëverblindery?
