Uwe Sauer haal 26 uur uit elke 24 uur
Uwe Sauer het vir jare sportafrigting vir die liefde van die saak gedoen, terwyl hy voltyds geswot en gewerk het. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Noem die naam Uwe Sauer en mense dink dadelik rugby. Speler, afrigter, skeidsregter en skeidsregterafrigter. Hy het alles gedoen.
Moeilik om te glo dat hy in standerd 3 (graad 5) niks van rugby geweet het nie.
Uwe is in Duitsland gebore en sy ouers het in 1971 na Suid-Afrika geïmmigreer.

Die jong Uwe het in Laerskool Historia beland. Op daardie stadium kon hy glad nie Afrikaans praat nie en al sport wat hy geken het, was sokker.
Algou het een van sy klasmaats hom kom haal om ‘n rugbyoefening by te woon.
“Ek was verstom toe die seuns op die veld ‘n kind duik en almal bo-op hom val. Dis mos heeltemal verkeerd in sokker. Die ergste was toe die afrigter so ewe sê dis goed,” onthou hy.
Hy het die middag vir sy ma van die affêre vertel en sy het gesê hy moet liewer daar wegbly.
Die volgende oggend het een van die onderwysers wat Duits kon praat vir hom verduidelik hoe werk rugby en die jong Uwe het slot begin speel.
Die rugbybal was daarna oor die pale, want van toe af loop rugby dik in sy are.
“Dit was nie lank nie, toe gaan ek ook kaalvoet skool toe nes my rugbymaats,” lag hy.
Hy en sy broers het almal rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem. Sy hoërskooljare het hy by HTS Carel de Wet spandeer waar hy in standerd 8 (graad 10) al vir die eerstespan uitgedraf het.
“Ek was rugbymal. Akademie en meisies was uit, ek het vir sport geleef,” vertel hy met ‘n groot glimlag.
Na skool het hy vrywillig aangemeld vir twee jaar diensplig voordat hy as ‘n passer en draaier vakleerling by Yskor begin werk het.
In 1983 is hy met Hantie getroud. Hy wou graag verder leer, maar die finansies was nie daar nie.
Dis toe dat Louis Eksteen en Chris Ehlers van Yskor hom genader het om by die Yskor Sportklub aan te sluit en vir hul trapkar te ry.
In ruil daarvoor sou hulle hom Tegniese Kollege toe stuur. “Ek het gaan trapkar ry, maar nooit weer nie, dis moordend!”
Vir Yskor Sportklub het hy geskitter in talle sportsoorte – van krieket en rugby tot sokker en atletiek en is hy ook as Sportman van die Jaar aangewys.
Terselfdertyd het hy goed gevaar in sy studies en sy vakleerlingskap met welslae voltooi. Uwe is dan ook aangewys as Vakleerling van die Jaar.
Hy het sy visie op ‘n diploma gestel en na ‘n oorbruggingskursus by die destydse Vaaldriehoek Technikon, sy Diploma in Tegnologie behaal.
Hantie was op daardie stadium departementshoof by Carel de Wet en hy is gevra om die skool se eerstespan af te rig in 1992.
In die 90’s is hy ook aangesê om een aand ‘n skeidsregtervergadering van die Yskorklub skeidsregters by te woon.
“Hulle het my ‘n boekie in die hand gestop en ek is huis toe. Kort daarna toe lui my foon en Vollie Volschenk vra my of ek ‘n wedstryd by die Vaal Pukke se koshuisliga sal blaas.
“Die skeidsregter het nie opgedaag nie. Sjoe, ek is veld toe en daar was nie eens ‘n lynregter nie. Daar was wel ‘n boksgeveg nog voor die wedstryd begin het,” skud hy kop.
By die huis het hy vir sy vrou gesê, “ek is klaar. Ek is nie ‘n skeidsregter nie.”
Maar skeidsregter wees was nie klaar met hom nie en uiteindelik sou hy een van die Vaal se staatmaker skeidsregters word.

Hy het vir 17 jaar rugby by skole afgerig. “Ek het alles vir die liefde van die saak gedoen en die ontwikkeling van die kinders,” verklaar hy.
Saam met sy afrigting en sport betrokkenheid het hy voortdurend bly swot. In 1998 het hy as projekleier by SASOL begin werk.
Daar het hy die geleentheid gekry om voltyds ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te gaan swot. “Ek was 38 jaar oud toe ek Tukkies toe is,” beduie hy.
Uwe het in 2021 afgetree as konstruksie direkteur by SASOL, maar in 2022 het hy ‘n nuwe uitdaging aangepak om ‘n aanleg te help bou in die Kaap.
Hy het in Januarie 2023 teruggekeer en is toe summier deur Leroi le Roux nadergetrek om hom te help vir sy voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe vir persone met gestremdhede.
Op 62 kry Uwe steeds 26 uur uit elke 24 uur. ‘Kan nie’ en ‘opgee’ bestaan nie vir hom nie. Soos almal wat hy afgerig het baie goed weet, hy speel nie gelykop nie.
Oor een ding is hy baie seker. Hy sal sy ouers ewig dankbaar bly dat hulle Suid-Afrika toe verhuis het. Hy is nou ‘n rugbyman in murg en been.
