Lewenslank vir lokvalmoord op jong boer
’n Veetransaksie van bykans R300 000 was die lokaas waarmee Christian van Tonder na sy dood gelok is.
VANDERBIJLPARK – Die voormalige veekoper Frederick Pieter Jacobus “Jaco” Botha (44) is Vrydag tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die voorafbeplande moord op Christian van Tonder (29), ’n jong boer van Lindley.
Regter Jacobus Johannes Strijdom het in die hooggeregshof in Pretoria bevind dat Botha vir finansiële gewin opgetree het toe hy Van Tonder na ’n afgeleë grondpad in die Barrage-omgewing gelok het onder die voorwendsel dat hy hom vir die beeste sou betaal.
Van Tonder het op 29 November 2021 ingestem om sowat 30 beeste vir bykans R300 000 aan Botha te verkoop.
Volgens die hofuitspraak het Botha reeds ’n ander koper vir die beeste gereël. Dié koper sou egter minder betaal as die bedrag wat Botha aan Van Tonder beloof het.
Nadat die beeste afgelaai is, het Botha saam met Van Tonder na ’n grondpad naby Botha se woning gery, glo om die kontantbetaling af te handel.
Van Tonder is daar in sy bakkie doodgeskiet. Sy liggaam is later in die voertuig aangetref. Geen betaling vir die beeste is gemaak nie en geen kontant is op die toneel gevind nie.

Die hof het bevind dat die moord beplan is, dat Van Tonder doelbewus na die afgeleë pad gelok is en dat Botha ’n ongelisensieerde vuurwapen gebruik het.
Botha het deurgaans onskuldig gepleit.
Regter Strijdom het beslis dat Botha se persoonlike omstandighede nie voldoende rede bied om van die voorgeskrewe minimumvonnis af te wyk nie.
Selfs Botha se regsverteenwoordiger het tydens vonnisoplegging toegegee dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat ’n ligter vonnis regverdig nie.
Die hof het bevind dat die verswarende faktore sy persoonlike en versagtende omstandighede verreweg oorskadu.
“Murder remains the most reprehensible crime that can be committed,” lui die uitspraak.
Van Tonder was ’n derdegeslagboer wat ná sy pa, Colyn, se dood die familieboerdery in die Oos-Vrystaat oorgeneem het.

Benewens lewenslange gevangenisstraf vir moord is Botha ook tot tien jaar tronkstraf vir diefstal, sewe jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie gevonnis.
Dié vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien word.
Botha is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
