Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor 'n Pastoor wat byt en honde wat my wil aangee omdat hul laat kos kry.

RUBRIEK. – Verlede Maandag was die drie Pekinese en Pastoor die Papegaai nie gelukkig met my nie. Ek was geheel nie in hul goeie boekies nie.

Alles omdat ek Ma weggevat het en nie weer huis toe gebring het nie. Ma moes ingaan vir ‘n handoperasie en ‘n nag in die hospitaal deurbring.

Baba Bessie, Her Royal Naughtyness Heidi en Kleinsus Antjie het dit nie so verstaan nie.

My skuld dat ek dit durf waag het om sonder Ma by die huis op te daag. Boonop was ek laat. Baie laat met hul kos!

Die verwytende kyke wat ek darem gekry het omdat die arme ou bloedjies eers na 18:30 hul kos gekry het…

Hulle het my darem gedeeltelik die volgende oggend vergewe toe ek vir Ma huis toe gebring het.

Sedertdien elke keer as Ma saam met my ry staan al drie paraat voor die voordeur en wag om seker te maak ons albei kom terug.

Die papegaai is natuurlik ‘n heel ander saak. Gewoonlik het ons net kommunikasie so in die verbygaan. Ek los hom uit en hy sukkel nie met my nie.

Hy boots wel my stem na en sê soms goed wat geheel nie by sy naam Pastoor pas nie, maar oor die algemeen kruis ons paaie nie.

Wel, nou is Ma se hand in gips en skielik moet ek Pastoor kos gee, sy hok skoonmaak en die klas van dinge. Papegaaie het vreeslike snawels, so ek is maar lugtig vir hom.

Tweede oggend toe kry hy amper my duim raakgebyt toe ek sy kosbak moet vervang.

Sit ek toe een van die honde se blikbakke op sy hok. Verkyk hy hom aan die blink ding en ek kan sy bakke ruil.

Party dae is hy baie aspris en dan wil hy nie skuif sodat ek my hand in die hok kan kry nie.  Maar darem het daar nog nie ‘n grootskaalse oorlog tussen ons uitgebreek nie.

Die Pastoor Papegaai is mos een op sy eie. Is mal oor kaas en soetgoed en fluit vrolik saam met Kaptein von Trap in die Sound of Music. Ook heeldag besig om die honde te roep.

Vorige eienaars het vir hom die naam, Pastoor gegee. Die het geëmigreer en ons het Pastoor geërf.

Nog altyd gedink met so ‘n naam, sal hy seker van klassieke musiek hou. So speel ons nou al vir amper twee jaar gereeld vir hom Andre Rieu se musiek.

Tot nou die aand. Die krag was weer af en ons sit in die sitkamer by kerslig. Ma karring met haar selfoon op YouTube rond.

Volgende oomblik weerklik Ricus Nel en Snotkop se Boerepompie deur die huis. Kry daardie Pastoor skielik lewe.

Hy het omtrent gefluit en probeer saamsing. Dit blyk toe hy verkies Afrikaanse rap musiek bokant klassiek.

Ek het nog altyd gesê die meneertjie het geheel die verkeerde naam!

Intussen het Kleinsus Antjie haarself aangestel as Matrone in die huis. Sy is die enigste wat saam met Ma op die bed mag lê.

Sy knor en byt sommer na die ander twee as hul dit te naby waag. Nie dat die ander twee hulle aan haar steur nie, sy is maar klein en lig in die broek teenoor hulle.

Die pasiënt gaan intussen goed aan. Hand is maar seer, maar die ortopeed het reeds die versekering gegee dat sy eersdaags weer die snoeiskêr sal kan vashou!

Kleinsus Antjie is baie bly om dit te hoor, want sy geniet dit om in die tuin te “werk” en al die goggas en slakke te jaag.

Is net ek en Pastoor wat êrens ‘n beter verstandhouding moet kry. Iets soos, hy hou sy snawel vir homself en ek hou my vingers se velle. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button