Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor verjaardae, 'n lui leeu, 'n stout olifant en ek wat met my rigtingbeduiweldgeid amper groot konsternasie veroorsaak het. Lees meer...

RUBRIEK. – Ek moet weer een syfer by my jare sit. Ja, selfs joernaliste het verjaardae. Dit was regtig ‘n lekker dag.

Vroegoggend se proeflees van die koerant en ek en Elsje wat Hot Cross Buns eet en spesiale koffie drink.

Die middag is ek bederf met ‘n haarsny en die aand het Liewe Vriend my uitgevat vir sushi.

So moet ‘n verjaardag gevier word. Foto: Gerda Bruinette

So van verjaardae gepraat. Ek onthou die keer wat ek vir my verjaardag ‘n aand in Kapama River Lodge in Hoedspruit kon deurbring.

Ek en Nurse Makgang van die Africa Silks Plaas buite Graskop in Mpumalanga. Kyk, dit was nou ‘n ‘grend’ affêre.

Is nie aldag dat drie mense jou tegelyk welkom heet en ‘n wildbewaarder dadelik jou sleutel vat om jou motor te gaan parkeer nie.

Na ‘n koek-en-koffiesessie gaan ons wild kyk. Een van die spoorsnyers beduie ons moet op die voertuig klim.

Nurse was maar bietjie benoud met die olifant so naby aan die voertuig. Foto: Gerda Bruinette

Die voertuig bestaan uit drie rye sitplekke van verskillende hoogtes. Geen dak nie en voor op die enjinkap is nog ‘n stoel vasgemaak vir die spoorsnyer.

Ek wil-wil so bietjie benoud raak, want die eerste vastrapplek is hoog en dan is daar nog een, bietjie hoër.

En dis vir daardie trappie wat ek sal moet mik, want daar sit reeds ‘n meisie in die eerste ry.

Ek het nie ‘n vrees vir hoogtes nie, dis net my vertroue in die op en afklim het in die 1980s ‘n knou gekry toe ek ietwat ongrasieus van ‘n Weermag Buffel afgespring het.

Ons is net drie gaste op ons voertuig en William kry koers op ‘n tweespoorpad die bosse in.

Kort-kort lyk dit soos ‘n omgekeerde Meksikaanse Golf as Willis of William hand in die lug steek om teen oorhangende takke te waarsku en ons drie dan afduik om dit te vermy.

Die manne vermaak ons met allerlei staaltjies oor die bos en diere. Ons proe hoe smaak ‘n geel maroela vars van die boom en sien ‘n verskeidenheid diere van rooibokke en kameelperde tot by ‘n groot trop buffels.

Met sonsondergang stop ons langs een van die vele watergate vir ‘n lafenis. Teen die tyd is die hele nagruim omtower tot ‘n skouspel van sterrelig.

Soet maroela vars van die boom. Foto: Gerda Bruinette

Ek hoor die roep van ‘n naguil en asem die reuk van veld en diere diep in. Na ons veldrit is dit tyd vir ‘n buitelug aandete.

Net voor nagereg begin die personeel sing. Ek sit rustig, my verjaardag ‘n paar dae terug vergete.

Tot die groep langs ons tafel stop, kompleet met ‘n sjokoladekoek vir een met ‘n brandende kersie op.

Ek word in drie tale toegesing, en bloos tot agter my ore. Nurse dink dis baie snaaks en sing sommer saam.

Ek en Nurse nadat die personeel vir my in drie tale gesing het.

Die son dink nog aan oë wys die volgende oggend toe is ons gereed vir die volgende wildrit.

Willis wys vir ons leeuspore in die sand. Skaars ‘n kilometer verder word Nurse se droom om ‘n leeu in lewende lywe te sien bewaarheid. ‘n Groot maanhaar en wyfie lê rustig en slaap ‘n paar meter van die pad af.

Die mannetjie lig sy kop en bekyk ons soos ‘n koning wat lastige onderdane te woord staan.

Geduldig wag hy tot ons kameras geklik het voordat hy verder slaap.

Aan die oorkant van die rivier kom ons af op ‘n grasvlakte waar bokke, blouwildebeeste en sebras saamwei.

Ver oor die vlakte kom kameelperde aan. Grasieus beweeg hulle nader aan mekaar en ek wonder of kameelperde ook familiebyeenkomste het, of dalk ‘n bosberaad?

Om ‘n draai word ons verras deur olifante. ‘n Jong bulletjie staan nader en probeer hard om ‘n tak van ‘n boompie af te breek nes sy ma gedoen het.

Wanneer die matriarg na ‘n rukkie haar familie bymekaar maak, drentel hy soos ‘n stout kind agterna.

Slaan eers oor op ‘n drafstappie toe ‘n harde trompetter vanuit die bosse opklink.

Na die vroeë oggend wildrit moet ons afskeid neem. Wel dit was die idee. Ek vat die sandpad terug hek toe, en ons ry… en ry… en ry.

Die pad het nie gister so lank gevoel nie. Maar ons ry agter ‘n veldwagtersbakkie met toeriste, so ek is redelik gerus dat ons nie leeukos gaan word nie.

Ten eindelaas stop die veldwagter en sy spoorsnyer kom vra wat maak ons nou eintlik. Is toe dat ek hoor ons in die verkeerde rigting op pad.

Die veldwagter beduie ons moet maar agter hom aanry. Tot by die hek. Veldwagter gaan deur, maar die hekwag kry amper ‘n oorval oor die privaat motor wat skielik voor hom staan.

Hy wil niks hoor nie. Hy weet net ons mag nie daar wees nie en ons mag nie daar staan nie.

Tussen al die geraas verskyn ‘n bekende gesig skielik langs my motor… William, ons veldwagter.

Die man maak ‘n plan. Druk knoppies op sy selfoon, kry die hekwag stil en skryf my besonderhede af en die hek word oopgemaak.

In die motor heers daar stilte tot ons op die R40 regs draai Hoedspruit toe. Ek en Nurse begin lag.

Ons lag oor die groot verdwaal, oor die mooi wat ons gesien het, oor die baie eet en oor die mense wat vir my gesing het. Dis lekker.

Twee mense van verskillende agtergronde, ouderdomme en kultuur, maar met gedeelde herinneringe van ‘n onvergeetlike amperse 24 uur in die bosveld.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button