Local newsNewsNews

Marius Martins: oudonderwyser en sakeman met ‘n groot hart

Marius Martins was op sy dag metaalwerkonderwyser en boer, maar vandag is hy saam met sy vrou, Marina, koffiewinkeleienaar, Lees meer...

VANDERBIJLPARK.- Marius Martins skrik nie vir ‘n uitdaging nie. Hy vat elkeen met oop arms aan en sit alles in om seker te maak dit werk.

Dié voormalige onderwyser van Hoërskool Vanderbijlpark en Transvalia, het op sy dag ‘n melkery bedryf, mielielande geploeg en met beeste geboer.

Nou se dae is hy die eienaar van Coffee Couture by Mediclinic Emfuleni.

Marius, Marina en Shany Martins. Foto: Gerda Bruinette

“Ek leer nog hoe om al die admi­nistrasie baas te raak. Kyk, ‘n mens moet tot boekhou van die yskaste se temperature,” beduie hy waar hy met ‘n stapel papiere voor hom in die winkel sit.

Nie dat stilsit een van sy sterkpunte is nie. Elke persoon wat in die koffiewinkel inkom gaan groet hy eers.

Hy ken die pasiënte en hul families wat inkom en knoop ‘n geselsie met elkeen aan. Moeë personeel beur hy op met ‘n glimlag. Dis duidelik hy gee om.

Daarvan kan sy vrou, Marina getuig. Die twee het kleintyd in dieselfde straat gebly.

“Ek het gereeld oor die heining geklim om by haar broer te gaan speel, maar eintlik het ek my oog op die mooi gesiggie gehad,” lag hy vrolik.

Hul was saam in Laerskool Hendrik van der Bijl, maar hul paaie het vir 27 jaar geskei, nadat Marina se gesin verhuis het.

Tot daardie aand in 1995 wat hy Marina, toe ‘n weduwee met twee kinders, weer by Hoërskool Vanderbijlpark se straatfees raakgeloop het.

Hulle is in 1996 getroud en Marius het die kinders aangeneem as sy eie. Saam het die twee ook ‘n dogter, Shani.

Marius het in1982 aan die Hoërskool Vanderbijlpark gematrikuleer. Daarna het aan die Goudstadse Onderwyskolleg onderwys studeer waar hy onder meer as voorsitter, ondervoorsitter en penningmeester in die studenteraad gedien het.

“Nie dat my boeke ooit geklop het nie,” sug hy. Na sy twee jaar diensplig het hy hom by die personeelkorps van sy alma mater as metaalwerkonderwyser aangesluit het.

“Dit was in 1989. Ek was 24 en Oom P.W. (skoolhoof Mnr. PW Pieterse) het my die matrieks gegee. Van daardie manne was groter as ek,” onthou hy.

“Oom P.W. se raad was dat ek hul van die begin af moes vasvat.”

Marius het nie die roede gespaar nie en aan die einde van die jaar het die matrieks sy rottang opgesny en in ‘n sakkie aan hom teruggegee.

“Anders slaan meneer die volgende groep dalk dood,” was hul mening. Al was hy streng, was hy ‘n gewilde onderwyser.

Onder sy leiding het die seuns geleer om metaalwerk en tegniese tekeninge te geniet.

“Is lekker as ek nou in een van hulle vasloop en hulle sê vir my dankie. Baie van hulle is vandag in die konstruksiebedryf of is gekwalifiseerde ambagsmanne en ingenieurs,” vertel hy trots.

Dan het hy ook krieket en rugby afgerig en was self ‘n uitstekende krieketspeler.

Hy het in standerd 6 al vir die eerstespan gespeel en naweke vir die dorpspan. Marius het ook vir jare in die Vaaldriehoek Krieket se bestuur gedien.

Kleintyd het hy gedroom van veearts word. “Ek is biae lief vir diere, maar ek het nie besef mens moet goeie wiskundepunte hê om veearts te word nie,” lag hy weer.

Sy liefde vir diere kon hy uitleef nadat hy en Marina getroud is. Hulle het op Klipkop gaan bly en hy het sy skoonpa met die beeste en melkery gehelp.

Na sy skoonpa oorlede is, het Marius ingespring en die boerdery oorgeneem. Op daardie stadium het hy ook ‘n slagpale bedryf.

“Dit was nogal ‘n groot uitdaging om die boerdery aan die gang te hou en onderwys te gee,” onthou hy.

In 2010 het hy voltyds begin boer. “Ek mis die onderwys. Wel, die kinders, nie al die burokrasie wat daarmee saamgaan nie,” erken hy.

Verlede jaar het hy en Marina saam die koffiewinkel gekoop. “Ons het mekaar te min gesien. ‘n Boer is mos van vroeg tot moeg besig. Nou is die ure net so lank, maar ten minste sien ons mekaar.

“Die koffiewinkel is ‘n groot uitda­ging, maar ek geniet dit,” beduie hy en spring eers weer op om iemand met ‘n rolstoel gemaklik agter ‘n tafel te maak.

“Ek is gelukkig. My lewe is vol met my vrou, familie, kinders en kleinkinders. Jy weet die jongste een is na my vernoem. Klein Marius,” en oupa se glimlag raak selfs breër.

‘n Aansteeklike glimlag van ‘n omgeemens wat alles met oorgawe aanpak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button