Local newsNewsNews

AfriForum hou sake-ontbyt oor Parys se toekoms

Die burgerregteorganisasie AfriForum, het op Woensdag 8 Maart ’n sake-ontbyt vir ondernemings in Parys gehou om ’n oplossing vir die voortslepende waterprobleme te vind. Dié vergadering volg nadat die krane van Parys weer eens in 2023 droog gelaat is en dorpenaars steeds konstante wateronderbrekings moet verduur.

By die ontbyt is daar besluit dat daar ’n waterforum tot stand gebring sal word wat uit verskeie gemeenskapslede en organisasies sal bestaan om ’n volhoubare plan vir watersekerheid op te stel en van stapel te stuur.

AfriForum se regspan het alreeds in 2022 twee dringende hofaansoeke teen die Ngwathe-munisipaliteit  gebring oor die swak bestuur en gehalte van die dorp se water.

Die situasie het egter so agteruitgegaan dat woedende gemeenskapslede in Januarie die strate ingevaar het en die dorp met grootskaalse betogings tot stilstand gedwing het.

Volgens, dr. Marlene van der Merwe Botha, water- en waterafvalspesialis by die Suider-Afrikaanse Waterinstituut (WISA) in Johannesburg, is die waterinfrastruktuur van Parys ’n groot knelpunt wat tot die voortslepende waterprobleme in die dorp bydra.

“Die waterinfrastruktuur is kommerwekkend. Ons sien die gevolge in die onderbreking van die watertoevoer na die gemeenskappe asook in die afname in die waterkwaliteit. Die oplossing lê in plaaslike owerheid wat hande met die privaat sektor vat en saamwerk om dié probleem op te los.”

“Die vergadering is gehou om die gemeenskap se insette te kry en ’n plan te beraam vir volhoubare watervoorsiening vir die dorp in die toekoms.

“AfriForum se Parys-tak het verskeie ondernemings genader en planne voorgelê wat die gemeenskap in staat sal stel om die probleme op te los.

“Dit is belangrik vir die gemeenskap om self te begin planne beraam, en selfbestuur van water is die enigste manier wat Parys weer deurlopend skoon water sal hê,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

“Ons sal aanhou om teen die munisipaliteit te litigeer en hulle in die howe onder druk te plaas om dienslewering te verbeter. Die munisipaliteit verwag elke maand van inwoners om hulle rekeninge te betaal ten spyte van swak dienslewering en wanbesteding.

“Dit is tyd dat ons self verantwoordelikheid van ons dorpe neem en ons belastinggeld bestuur om te verseker dat dienste wel gelewer word,” sluit Grobbelaar af.

Word deel van die oplossing: SMS die woord “Parys” na 45344 en help om die water weer terug te bring.

Van links is: Corné Cronje, Jaco Grobbelaar, Lambert de Klerk, Alta Pretorius, Marais de Vaal, Marlene van der Merwe-Botha en Johan Kruger.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button