Local newsNewsNews

Onse Carli en kie skitter in Johannesburg

Dis 'n moet sien. Dis 'n droomwêreld. Dis die Vaal se Spaansedansers in Sueños.

Carli Olivier en haar dansers van Compañia Sophia is tans saam met die kitaarmaestro James Grace te sien in Sueños by die Pieter Toerien Teater, Monte Casino.

Dit is die derde keer wat Carli en James saamspan vir ‘n eersteklas vertoning van Spaansedanse en uitsonderlike kitaarmusiek.

Sueños beteken drome en hierdie produksie voer jou van die eerste noot af mee na ‘n droomwêreld van klank en kleur.

Vir amper twee ure vergeet jy van alles en word jy vasgevang in die musiek, die klap van kastanjette en die vrolike gestamp van voete.

Die produksie verloop seepglad. Dis duidelik dat die dansers en kitaarspeler mekaar ken en vertrou.

Hulle betower jou. Oorrompel jou sintuie en met die vrolike Spaanse tussenwerpsels van die dansers en gehoor voel dit asof mens êrens in Spanjé is.

‘n Hoogtepunt van die aand was beslis die dansers se vrolike handklap dans op die maat van die tradisionele Spaanse trom bekend as die Cajon.

Carli sê die program is juis so saamgestel dat die gehoor van hul alledaagse bestaan kan ontvlug.

“Daar buite is ‘n vreeslike gewoel, maar in die teater sak die stilte neer sodra die ligte afgaan. ‘n Oomblik van rustigheid en dan begin die musiek. Dis soos om ‘n emosionele breek te vat,” vat Carli dit mooi saam.

Die span het vir sewe weke hard gewerk om alles eksie-perfeksie te kry. Nie dat alles altyd volgens plan verloop nie.

Carli het op die eerste aand in die donker oor ‘n lig gestruikel en met ‘n slag agter die verhoog grond gevat.

“Dit nadat ek net vyf minute terug vir almal vertel het dat hul baie stil agter die verhoog moet wees. Die lig is die res van die aand op ‘n koffieblik gebalanseer. Ek het dit geheel uit sy skaniere geval,” lag Carli wat gelukkig nie beseer is nie.

Hul speelvlak het op 1 Maart begin en duur tot 12 Maart by die Pieter Toerien Teater.

Volgende maand sal hul van 12 – 22 April by die Theartre on the Bay in Kampsbaai te sien wees.

“Dis ‘n groot voorreg om by dié teaters te kan optree. Hul standaard is baie hoog en hul aanvaar net die beste produksies,” vertel Carli.

Sueños bied topklas vermaak vir die hele gesin en verdien elke staande ovasie.

Dankie Carli en jou span, jul hou die Vaaldriehoek se naam hoog in die stad. Ons is trots op julle!

*Vir meer inligting besoek gerus die Facebookblad @SuenosPrduction. ·

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button