Basjan speel eersdaags weer hokkie
Goeie nuus - Een van die NWU se hokkiesterre kan eersdaags weer begin speel, danksy 'n grootskaalse spanpoging van mense wat omgee en uitstekende medici.
VANDERBIJLPARK. – Basjan Kok, een van die NWU se hokkiesterre, sal teen die einde van Maart weer kan begin hokkie oefen.
Die goeie nuus volg nadat hy in Februarie ‘n groot kolostomie omkeringsoperasie ondergaan het. Sy ma, Anita Kok het laat weet die chirurg, dr. Mellet, is tevrede met Basjan se vordering.
Dit is goeie nuus vir Basjan wat nog altyd sportief was en nie van stilsit hou nie. Hy het verlede jaar met ‘n kolostomiesakkie steeds vir die universiteit op die hokkieveld geskitter en verskeie skolespanne afgerig.
Basjan is einde November 2021 ernstig in ‘n motorongeluk beseer waarna hy die kolostomiesakkie gekry het.
Die omkeringsoperasie was verlede jaar by een van die staatshospitale geskeduleer, maar met sy aankoms was die teater nie bespreek nie.
Nicoleen Harmse se Ubee4Me nie-winsgewinde organisasie het ingegryp en verskeie projekte is geloods om genoeg fondse in te samel sodat die operasie by ‘n privaat hospitaal gedoen kon word.
Begin Februarie was daar genoeg fondse om die meeste onkostes te dek en die vier uur-lange operasie is gedoen.
Na ‘n paar dae in die intensiewe eenheid en nog langer in ‘n gewone saal, kon Basjan by die huis gaan aansterk.
UBee4Me het Saterdag, 4 Maart ‘n aanlynveiling gehou waar daar ‘n verdere R12 000 ingevorder is. Nicoleen sê hulle kan nou al Basjan se onkostes betaal.
Sy bedank graag almal wat bydraes gemaak en die projekte ondersteun het.
Anita het op haar beurt Midvaal Hospitaal se personeel, dr. Mellet en die narkotiseur, dr. Geertshuis bedank vir hul goeie werk.
Nie een van die twee spesialiste het ekstra gevra nadat ‘n poliep in Basjan se derms ontdek is en die operasie met ‘n week uitgestel moes word nie.
