Gemeente herdenk Lydenstyd met Paas-opvoering
Ds. Chris Olivier, leraar van die NG Gemeente Drie Riviere-Oos, en die deelnemers nooi almal hartlik uit om dié baie spesiale aanbieding by te woon.
Die NG Gemeente Drie Riviere-Oos bied Donderdag, 23 Maart en Vrydag, 24 Maart ‘n Paasfees-opvoering by die kerk op die hoek van Hazel- en Palmstraat, Vereeniging, aan.
Die opvoering is ‘n klassieke weergawe van Jesus se lyding en sterwe. Dié NG-gemeente het in die afgelope jare reeds bekendheid verwerf met hul hoëgehalte Passiespel wat deur besoekers van heinde en ver bygewoon word.
Al die deelnemers is vrywilligers uit die gemeente.
Die Paas-opvoering, getiteld “Jerusalem tot Golgota”, is ‘n bondige en pragtige vertelling met geestelike voordragte en musiek. Individuele sangers, sowel as die bekende Delta-koor onder leiding van die begaafde musikante Imker en Elsie Hoogenhout, sal ook deel daarvan uitmaak. Daar is ook ‘n spesiale toneeltjie ingeskryf vir klein kindertjies.
Die talentvolle Arina Greeff het self die verkorte teks geskryf en behartig weer soos in vorige jare self die regie en spelafrigting.
“Almal wat deelneem, is vrywilligers uit ons eie gemeente. Daar is geen professionele hulp nie. Ons spelbestuurderes is Colette Loots, ‘n uiters bekwame lidmaat wat baie betrokke en bekend is by kunsfeeste in die Vaaldriehoek,” sê Arina.
Ds. Chris Olivier, leraar van die NG Gemeente Drie Riviere-Oos, en die deelnemers nooi almal hartlik uit om dié baie spesiale aanbieding by te woon.


