Hollywood? Nee, die Vaal se ADK!
By die Akademie vir Dramakuns gebeur daar altyd iets. Onlangs het hul 'n filmpremiere van hul eie fliek gehou. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Die leerders van die Akademie vir Dramakuns sal 1 en 2 Maart 2023 lank onthou.
Dit was die aande waarop hul eie film, Wie het my kaas geskuif?, by die Kunstedraai kunstesentrum vertoon is.

Dit was die eerste keer wat Franciska van der Merwe en haar span so iets aangepak het vir die ADK in die Vaaldriehoek.
Sy en twee van haar dogters, Franciska (jr.) en Petroné Crowther het saam met Rachelle Lorens gespan om ‘n film te skryf en te vervaardig waarin al die ADK se Vaaldriehoek leerders kon speel.
Ongeveer 40 studente van graad 1 tot graad 12 het deelgeneem. Elke ouderdomsgroep het hul eie genré in die film gehad wat alles van misterie tot by realiteit, sang, dans en komedie bevat het.

“Ons het alles in my klaskamer opgeneem in November. Elke groep apart. Die kinders het dit baie geniet,” het Francisca vertel.
Hulle het ‘n groot okkasie van die film premiere gemaak. ‘n Rooi tapyt is uitgerol. Die akteurs en aktrises het hul mooiste moois aangtrek en met groot bravade met die tapyt langs geloop.
Elkeen se aankoms is deur ‘n parate videokameraman afgeneem en Franciska het haar lyf onderhoudvoerder gehou en met ‘n mikrofoon in die hand speel-speel ‘n onderhoud met elkeen gevoer.
Daarna is elkeen ook afgeneem in die voorportaal. Buite het die akteurs se familie om die rooi tapyt gestaan om die nodige applous te verskaf.
“Ons wou dit regtig spesiaal maak vir die kinders,” het Francisca gesê. Die saal was volgepak en almal het dit geniet om hulself op die groot skerm te kon sien.
Wie het my kaas geskuif? sal nie weer vertoon word nie.
“Hierdie was ‘n groot eksperiment en ons eerste poging. Ons leer nog. Ons wou net die kinders leer hoe om in ‘n film te speel.
“Dit verskil heelwat van verhoogwerk. Maar, een van die dae doen ons nog ‘n film wat ons dalk op sosiale media sal laai,” het Frankisca gesê.
