Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Wat gaan in onse kantoor? Wel, ek vermoed dis 'n rustige plek, totdat die redaksielede instap! Lees meer...

RUBRIEK. – Kom twee of meer van die redaksiespan die slag saam by die kantoor aan, dan gebeur daar altyd iets.

Die administratiewe personeel maak dadelik die glasdeure toe, want hul weet ons gaan weer raas.

Is nie ons skuld ons sien mekaar so min nie (lees een keer per week) en dan het ons baie werk en gesels om in te haal.

Is seker ook gewoond om gereeld in lawaaierige omstandighede onderhoude te voer en foto’s te neem, dié dat ons so effens hard praat en baie lag.

Ons kan nie help nie, ons vind altyd iets om ons aan die lag te kry. Soos die slag wat kollega Christiaan ‘n video gestuur het waar hy weghardloop vir ‘n man wat hom en sy kamera wou bykom.

Sy “help polisie!” krete was vir ons baie snaaks. Gelukkig was hy en sy kamera okay. Ons het hom jammer gekry, regtig. Maar ons kon nie help om te lag nie.

Die Vaalweekbladspan is maar so. Onderling sal ons mekaar vreeslik terg en gekskeer, maar as iemand van buite een van ons te na kom, dan is daar moeilikheid. Ons staan saam.

Nie dat my geagte redakteur, Elsje nou die dag baie simpatie met my getoon het nie.

Jy sien, ons werk in ‘n oopplankantoor. Dis nou wanneer ons Dinsdae vir koerantsaktyd op die kantoor neerdaal.

Jy sal my en Elsje by die eerste twee werkstasies neffens die ingang vind. Naby die lugverkoeling. Ons kan nie werk as ons te warm kry nie.

Allegeval, die werkstasies het so ‘n lekker groot blad wat aan die muur vas is en doer onder teen die muur is die muurproppe.

Ek weet die maklike ding sal wees om ‘n ekstra kabel met ‘n multiprop van die huis af te bring, sodat ek my skootrekenaar (ag kyk my mooi Afrikaans, ek bedoel eintlik maar my laptop) met ‘n bukslag kan inprop.

Maar nee, ek is mos ‘n verstrooide wese, ek vergeet elke week van goete soos ekstra kabels.

Klokslag op ‘n Dinsdagoggend moet ek dan deur die hele proses gaan om handeviervoet onder die blad in te kruip om die rekenaar se kabel in die muurprop te druk.

Dan is dit ‘n gesteun en geblaas van ‘n ander wêreld net om weer regop te kom.

Julle moet weet my knieë het al die halfeeu merk gesien en hoeka het ek mos my benerige maermerries saam met ‘n neiging tot rumatiek knieë van my Ouma Bessie geërf.

Teen die tyd wat Elsjé sê, “daarsy ons is klaar. Die koerant kan maar drukkers toe”, dan word die hele proses herhaal om weer die prop uit te kry.

Gewoonlik het sy dieselfde probleem as ek, maar verlede Dinsdag toe beproef sy haar laptop se batterykrag en wraggies dit hou totdat sy dit kon afsit.

Dit was toe ek weer onder die tafel in­kruip, dat sy in plaas daarvan om die nodige morele ondersteuning te bied en simpatie te toon, haar selfoon uitruk en summier ‘n foto neem.

Begin ons albei so lag, ek kom nie onder die tafel uit nie!

Stuur ek later die foto vir my nig Anneke (my pekinees Kleinsus Antjie) is mos na haar vernoem.

Haar reaksie: “Wat op aarde gaan in daai kantoor aan? Dit lyk na iemand wat snuffel onder die ‘desk’ vir nuus.”

Nadat ek met groot omhaal van woorde aan haar die situasie verduidelik het, het ek die volgende WhatsApp gekry:

“Nee, hoop jul het workman’s compensation, lyk maar na ‘n gevaarlike job daai.” Met sommer ‘n hele spul lag gesiggies by.

Dis lekker tye. Sit ek en Elsje hoeka weer voor die rekenaars met die Vaalweekblad in wording voor ons.

Met haar eerste “ag, nee” vir die dag, gaan maak ek vir ons van daardie spesiale pakkies koffie wat ons Dinsdae drink. Sy kry solank die Hot Cross Buns uit.

“Jou beurt om die derde een te deel,” sê sy. Dit vat baie konsentrasie om die eetding mooi in die helfte te breek sonder om dit heeltemal pap te druk.

Toe ons elkeen terugsit om eers ‘n hap te vat, val iets my by. “Haai, jy weet, die kantoor het ‘n kombuisie en in daai kombuisie is ‘n mes.”

“Is waar ja, maar dis te ver om te loop,” haar kommentaar. Ek beloer die paar meter kombuis toe. “Wraggies ja, en ons is te besig om ‘n mes te kry.” Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button