Local newsNews

‘Die bestuurder het geskree, en toe word dit stil’

Die onlangse model Volkswagen Golf 5, wat glo aan 'n Afrikaanssprekende man van Vanderbijlpark behoort het, was binne sowat 25 minute vernietig.

VEREENIGING. – Ooggetuies van ‘n ongeluk naby die Houtkopbrug moes verlede Maandagnamiddag magteloos toekyk hoe ‘n voertuig met die bestuurder steeds binne-in, totaal uitbrand.
Die onlangse model Volkswagen Golf 5, wat glo aan ‘n Afrikaanssprekende man van Vanderbijlpark behoort het, was binne sowat 25 minute vernietig.

Mev. Gloutjie Barnard, ‘n inwoner van die omgewing, sê sy het die agtermiddag ‘n harde klap- en skuurgeluid gehoor soos wat ‘n voertuig se band vermoedelik op die R59-snelweg naby die Houtkop-afrit gebars het. Die kar het daarna deur die veiligheidsbuffer van die snelweg gery en teen die skuinste afgeploeg voordat dit onder tussen bosse tot stilstand gekom het. Die voertuig was dadelik in vlamme gehul.

‘n Sekuriteitsman wat ‘n elektriese kabel op die terrein bewaak, se waghuisie is rakelings deur die voertuig gemis. Hy het agterna geskok aan omstanders vertel dat hy iemand in die brandende kar kon hoor skree, en toe word dit stil.
Van die omstanders het grond op die vlamme probeer gooi maar dit was so warm dat niemand naby kon gaan nie. Herhaaldelike opvolgontploffings het gevolg en die vlamme het vinnig rondom die wrak versprei.

Mnr. Dirk du Plooy, skofleier van Sekuriteit Sonder Grense (SSG) se hoërisiko-eenheid, en mnr. Etienne Kruger, hoofbestuurder van SSG, was gou saam met ander personeel op die toneel en het dadelik die brandweer ontbied. Aangesien Emfuleni se nooddienste tans nie behoorlik funksioneer nie, het Midvaal se brand- en reddingspan sowat 20 minute later uit Meyerton opgedaag. Hulle het die brand geblus maar dit was duidelik dat niks meer vir die bestuurder gedoen kon word nie. Die persoon is op die toneel deur ER24 dood verklaar.

Die identiteit van die voertuigeienaar is glo bepaal deur die enjinnommer op die wrak, maar dit is nog onbekend of die eienaar die betrokke dag wel die bestuurder van die voertuig was. Dit sal waarskynlik deur ‘n forensiese ondersoek van die liggaam bepaal moet word. Die naam van die voertuigeienaar is aan Vaalweekblad bekend, maar word weerhou omdat sy familile teen saktyd nog nie vir verdere inligting bereik kon word nie. Die polisie ondersoek die oorsaak van die tragedie.

OPDATERING: Familielede van die oorledene wat onverpoosd by hospitale en lykshuise na hom gesoek het, het met Vaalweekblad kontak gemaak nadat hulle die berig in hierdie week se koerant gelees het. Hul vermoede dat dit hul geliefde was wat in die brandende wrak gesterf het, is toe inderdaad bevestig. Die familie is nog erg geskok en het tyd nodig om die nuus oor die tragedie in privaatheid te verwerk. Vaalweekblad sal moontlik komende week ‘n opvolgberig plaas.

WAARSKUWING: Hier onder is ‘n video wat ‘n omstander, mev. Gloutjie Barnard, op die toneel geneem het terwyl die voertuig nog gebrand het. Dit kan sensitiewe kykers ontstel. Moet asseblief nie verder afrol as jy sensitief vir ongelukstonele is nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button