Kyk hoe nael ons vir liefdadigheid
Wanneer vyf kleuterskole saamtrek vir 'n atletiekdag is daar baie pret!
VANDERBIJLPARK. – Wat kry jy as jy vyf kleuterskole bymekaargooi vir ‘n atletiekdag? Georganiseerde chaos op sy beste.
Saterdag, 4 Maart het die jongspan van Skitterland Montesoori, Little Blessings, Pika-Nini, CamKidz en Ek is Uniek weer by Laerskool Emfulenipark saamgetrek vir hul jaarlikse atletiekdag.

Die dag was ‘n groot sukses. Langs die veld en op die pawiljoene was daar nie plek vir ‘n muis nie.
Die kleingoed is ondersteun deur ‘n hele skare oupas, oumas, mammas, pappas, broers, susters en ander vriende en familie.
Colleen Strydom van Skitterland Montessori sê die skole hou van die eenheid wat die jaarlikse instelling bring.
“Ons deel almal dieselfde passie vir die kleindgoed en ons gebruik ook die dag om nie-bederfbare voedsel vir Kompas Gemeente se Oop Hand Organisasie in te samel.”

Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor ER Emergensy Services wat aan diens was, asook hul MC vir die dag, Clive Morris.
Oud en jonk het die dag geniet, met die kleintjies wat alles gegee het in die naellope en kleuterhekkies.

Daar was selfs ‘n podium waar die eerste vier in elke resies hul medaljes ontvang het en verskeie “cheerleaders” wat die atlete aangepor het.

