Akademie vir Dramakuns se Franciska – kreatief en altyd aan die gang
Franciska van der Merwe pak alles met oorgawe aan en vir haar leerlinge is sy hul geliefde drama tannie en vertroueling. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Kreatiwiteit vloei sterk deur Franciska van der Merwe se are.
Vir haar dramastudente is sy die tannie wat omgee, die een wat luister en wat hul belange op die hart dra.
Sy het nog altyd ‘n liefde vir drama gehad. As jong kommunikasiekundestudent aan die destydse RAU, het sy met die Akademie vir Dramakuns (ADK) kennis gemaak en terselfdertyd haar diploma in drama aan hulle voltooi.
“Na my studies was ek vir drie jaar deel van die korporatiewe wêreld as skakelbeampte.
“Ek het dit geniet, maar dit het vir my gevoel my kreatiwiteit word aan bande gelê,” vertel sy oor ‘n koppie koffie.
Franciska het in Pretoria grootgeword, maar is sedert 1991 in Vanderbijlpark. “My man is gebore en getoë in Vanderbijlpark en ons het ons hier kom vestig na ons troue.”

Stilsit kan sy nie, en daarom het sy dramaklasse begin aanbied vir vyf kinders by haar huis.
Haar dramaklasse was gewild en dit was nie lank nie, toe moes hul ‘n lapa aanbou om nog studente te kon akkommodeer.
Later het hul die motorhuis ook ingespan. “Sjoe, daar was op ‘n stadium tot 30 kinders op ‘n middag deur ons erf,” lag sy.
Nadat sy vir vyf jaar ‘n klaskamer by die Hoërskool Driehoek gebruik het, het sy en haar beste vriendin, Riëtte saamgespan om die Kunstedraai kunstesentrum in Offenbachstraat te begin.
Die geboue en erf het eens op ‘n tyd as pastorie van een van die Gereformeerde Kerk se gemeentes gedien.
“Ons is al nege jaar hier en geniet elke oomblik daarvan. Vir ons gaan dit oor die ontwikkeling van ons studente en ons liefde vir drama, film en ballet,” beduie sy en lag weer omdat van hul sakevriende reken hul moet meer geld maak.

Die duo is ‘n gedugte span wat al vele projekte saam aangepak het.
“Dit het alles begin toe ek revues vir skole begin skryf het. Laerskool Kollegepark het my genader om ‘n revue te skryf, en ek het besef ek weet niks van dans af nie.
Dis toe wat ek vir Riëtte gevra het om as choreograaf op te tree.” Vandaar het hul vennootskap en vriendskap net geblom.
Kunstedraai het ook al drie pantonieme op die planke gebring, waar hul seker maak elke drama- en ballet student vertolk ‘n rol.
“Ek voel altyd ons grootste taak wanneer ons ‘n produksie op die planke bring is om die gehoor vir ‘n paar uur uit hul realiteit te kry en na ‘n ander wêreld mee te voer.”
Alhoewel Franciska in haar studentedae haar buiging op die verhoog gemaak het, en dit soms steeds doen as haar volwasse studente dringend ‘n speler kort, verkies sy dit om die regie te behartig.
“Ek hou van die skeppingsproses. Naas drama, lê filmwerk my ook na aan die hart.”
Sy het eenkeer vir ‘n 48 Hour Show by die Mall of Africa ingeskryf. “Ons het 48 uur gehad om ‘n film te skryf en te vervaardig.
“Dit was baie harde werk, maar groot pret. Ons het die karavaan op ons erf as klankateljee ingespan en die hele film is by ons huis geskiet,” onthou sy.
“Dit was 48 uur van geen slaap nie, maar die gevoel toe daardie die film by die Mall of Africa vertoon is, is onbeskryflik.”
Sy droom daarvan om nog films te maak. “Ek het eendag in ‘n supermark vir Sonja Herholdt raakgeloop en met haar begin gesels.
Sy het vir my gesê: ‘Begin net op jou eie mishoop kraai.’ Dis wat ek nou doen, ek doen my eie ding in my eie dorp.”
Intussen groei die ADK weer met rasse skrede. Die befaamde Milla Louw (5 Oktober 1922 – 1 April 2012) het met haar afsterwe in 2012 die ADK in ‘n handgeskrewe testament aan Franciska bemaak.
Dit het haar drie jaar geneem om die ADK amptelik geakkrediteer te kry, maar vandag staan die akademie weer sterk met takke van Gauteng tot in Kaapstad.
Francisca glo aan besig bly en daarvan kan haar lang lys prestasies en projekte getuig.
Vir haar gaan dit nie oor dit wat op haar C.V. staan nie, maar om die liefde en belangstelling vir drama in al sy vorme by haar studente aan te wakker en te ontwikkel.
