Landwye protesoptrede: EFF eis Cyril Ramaphosa se bedanking
Die EFF wil Suid-Afrika volgende week tot stillstand ruk tydens hul beplande landwye “shutdown”.
Die EFF se opperbevelvoerder, Julius Malema, het Woensdag (15 Maart 2024) tydens ’n perskonferensie gesê die EFF eis die bedanking van die land se president, Cyril Ramaphosa, en ’n einde aan beurtkrag.
Volgens Malema wil die EFF tydens die landwye protesoptrede ook kwessies wat die jeug affekteer uitlig.
Dit sluit volgens Malema kwessies soos werkloosheid, toegang tot hoër onderwys, uitdagings rondom water en elektrisiteit, slaggate en die stand van paaie, hoë misdaadvlakke en geweld teenoor vroue en kinders, sowel as korrupsie in.
Volgens Malema het Ramaphosa sy ampseed verbreek.
“Ons kan nie met ons hande gevou sit terwyl die land op die rand van ineenstorting is nie. Toekomstige generasies gaan ons eendag vra wat het ons gedoen toe die land soveel uitdagings in die gesig gestaar het. Die enigste ding wat ons kan doen is om ons stemme te verhef.”
“Ons stemme word deur die grondwet beskerm en ons sal ons stemme gebruik om ons kommer uit te spreek,” het Malema tydens die perskonferensie gesê.
Volgens Malema het die EFF al sy lede en die publiek ingelig oor die belangrikheid van die “shutdown” en die redes daarvoor.
Malema het inwoners van Suid-Afrika gevra om die EFF se landwye ‘shutdown’ in gedagte te hou wanneer hulle planne maak vir Maandag 20 Maart 2023.
Volgens Malema gaan die land se strate beset word.
Hy sê winkelsentrums, winkels en sake-eienaars is gewaarsku omdat die EFF plundery wil vermy.
“Ons wil nie plundery op 20 Maart hê nie, maar ons weet dat indien winkels oop is buit mense die situasie uit en raak hulle betrokkie by onwettige aktiwiteite. Ons sê nie in enige van ons briewe dat mense hul winkels moet sluit nie, ons maak hulle net bewus dat daar ‘n protesoptrede sal wees.”
