Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Kleinsus Antjie regeer weer die huis na haar kortstondige, maar ernstige siekbed.
RUBRIEK. – Verlede week het ons hele huishuiding bykans tot stilstand gekom. Kleinsus Antjie was siek. Baie siek.
Een dag was sy nog haar normale self en die volgende dag wou sy nie eet nie. Nie eens van haar gunsteling gebakte hoender nie.
Daardie nag toe begin sy opgooi en haar magie werk bloed. Natuurlik het ons die volgende oggend net na 08:00 by die veearts gesit en wag.
Skuus, ek bedoel gestaan en wag. Antjie is mos die koningin van die huis en mens sit nie met haar en wag by die veearts nie. Nee, jy staan en sus haar.
Op die veearts se ondersoektafel kan jy haar ook nie neersit nie. Ek moet haar vashou en dan sal sy dit oorweeg dat hy haar kan ondersoek. Dapper is sy wel.
Twee inspuitings wat oom veearts nog wou waarsku kan seer wees en sy het nie ‘n woord getjank of ‘n spier getrek nie.
Res van die dag omgeslaap en toe begin die nagmerrie om vir Antjie haar medisyne in te gee. Pille is uit soos straatligte in Vanderbijlpark.
Ons probeer maar met die stroop en spuitnaalde. Die kleine juffie weet presies hoe om daardie plat Pekinees bekkie van haar styf toe te knyp. Ek moet vashou, Ma doen die spuitwerk.
Ag ja, so het ek antibiotika en maagmedisyne vir vyf dae in strepe oor my arms en klere gehad.
Antjie se borskas is skoon geel van al die kere wat sy haar tong op die laaste nippertjie voor die spuit ingedruk het en medisyne gespoeg het.
Van dit het sy beslis ingekry, want soos die dae aangegaan het, het sy beter geraak.
Groot was my verligting toe ek Donderdag van een van my vele omswerwinge by die huis kom en sy my weer met ‘n stertswaai en baie soene begroet.
Nie dat sy my meer 100% vetrou nie. Noem net die woord medisyne en sy hardloop weg as ek net naby haar kom.
Of sy sal heel wakker wees, maar as ek nader kom gaan spring sy in haar mandjie en slaap skielik die diepste slaap waaraan jy kan dink!
Gelukkig eet sy darem nou weer en sien sy weer kans om met Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi te baklei.
Sy is nog vies vir hulle. Almal weet sy moet eerste gaan vir ‘n bad by die salon in Drie Riviere. Sy gaan alleen, want in ‘n hokkie sal niemand haar waag sit nie.
Ma moet haar vashou totdat Rosie haar kom haal en dan wag ons geduldig totdat Rosie haar weer terugbring.
Antjie geniet dit dan vreeslik om die enigste skoon hond in die huis te wees en beskou die ander twee as haar vuil onderdane. Hulle gaan gewoonlik die dag na haar.
Gebeur dit toe so dat haar afspraak met ‘n week uitgestel moes word weens haar ontydige ongesteldheid. Die ander twee kon egter wel op hul bestende tyd gaan.
Antjie was hoogs ontsteld. Nie net moes sy alleen by die papegaai bly nie, dit was beurtkrag so die radio was af en toe kom die ander twee nog so ewe skoon en geskeer by die huis aan.
Om te sê sy was hoogs ontsteld kom nie naby haar gebeldheid nie. Ten minste gaan sy die week vir haar bad en met al die stof in die lug is die ander twee ook nie meer heeltemal so spierwit nie.
Intussen is sy net baie dankbaar haar medisyne bottels is uiteindelik leeg en weggegooi.
Nou wag sy net vir Ma se hand om heeltemal te herstel na die groot operasie sodat sy weer saam met Ma in die tuin kan werk.
Antjie is mos besig met haar doktorale tesis in insektekunde. Waar Ma in die tuin spit is Antjie by om die goggas te bestudeer.
Steur haar glad nie daaraan as ek protesteer oor haar modderspoortjies oor my skoon vloere of dat sy haar moddergesiggie aan my klere afsmeer nie.
Maar dis alles okay. Solank sy gesond is, mag sy maar doen net wat sy wil. Die skrik was groot verlede week. Ek het haar soene gemis. Sela!
